Komatipoort-rugbyster skitter vir Mpumalanga
Danie het sy beste gespeel in die wedstryd teen die Sharks, waar hy as speler van die wedstryd aangewys is.
n Gr. 7-leerder van Komatipoort Akademie, Danie Pretorius, het sy staal gewys as lid van die Mpumalanga o. 13-span tydens die onlangse Interprovinsiale Toernooi (IPT).
Die Mpumalanga-span was uit spelers van reg oor die provinsie saamgestel, en Danie was een van die gelukkige spelers wat geskiedenis gemaak het deur die provinsie vir die eerste keer in 20 jaar by die IPT te verteenwoordig. Die toernooi was van 6 tot 11 Oktober by Hoërskool Monument in Krugersdorp deur die Golden Lions Rugbyunie aangebied.
Die Mpumalanga-span het hulle goed van hul taak gekwyt en drie van vyf wedstryde gewen. Hulle het oorwinnings teen die Lions, die Sharks en die Bulls behaal, maar teen die Valke verloor. Mpumalanga het dus die eindstryd bereik, maar moes ongelukkig teen die Bulls die knie buig.
Danie het ‘n uitstekende toernooi agter die rug en is in die 19-17 oorwinning teen die Sharks as speler van die wedstryd aangewys, met sy medalje wat hy van oud-Springbok Jannie du Plessis ontvang het – ‘n besondere eer!
