Voormalige Pumas-afrigter sluit by Nellies as rugbyhoof aan
Mentz neem die rol van hoof van rugby by NHS oor en bring meer as 20 jaar se professionele rugby-ervaring saam.
MJ Mentz (43) wat al vir 13 jaar lank ‘n afrigter by die Airlink Pumas was, beëindig vandeesweek sy tyd in pienk en begin volgende week by Hoërskool Nelspruit (NHS) as hulle nuwe hoof van rugby.
Die skool het vroeër dié maand aangekondig dat Mentz op 1 November die rol as rugbyhoof gaan waarneem. Hierdie skuif bring sy 23 jare lange loopbaan in professionele rugby tot ‘n einde, waarin hy as beide ‘n speler en ‘n afrigter groot sukses behaal het.
“Ek het gevoel ek is reg vir ‘n nuwe uitdaging, en toe hierdie geleentheid kom, kon ek nie nee sê nie,” het Mentz dié week aan Laevelder vertel. Al sal dit ‘n nuwe uitdaging vir hom wees, voel hy daar sal nie té veel van ‘n verandering wees nie. “Skole se rugbysisteme word deesdae al hoe meer professioneel, so ek is opgewonde om by die Nellies aan te sluit.”
LEES OOK: IN PHOTOS: Border defeat Pumas in thrilling SA U21 Shield final
Die Nellies is ‘n trotse rugbyskool met ‘n ryke geskiedenis in dié sport, en Mentz wil graag die skool se rugbykultuur verder kweek. “Dit is belangrik om ‘n puik rugbykultuur te hê wat suksesgedrewe is, en as daar eers uitstaande sisteme in plek is, sal alles vanselfsprekend reg wees. Ek moet eers sien waar dit nou is, en van daar af sal ons vorentoe beweeg.”
Een van Mentz se grootste uitdagings is om die Rhinos terug in die SDC Noordvaal-bekerafdeling te kry nadat hulle vanjaar na die plaatafdeling afgeskuif het. “Dit sal wonderlik wees om binne die eerste jaar terug in die beker te wees, maar ons moet ook realisties wees,” sê Mentz. “Ek wil ons graag terugkry waar ons hoort, maar ons gaan eers die skip moet omdraai. So dit mag dalk eers in die tweede of derde jaar gebeur.”

Mentz se eerste taak as rugbyhoof is om die rugbyspelers vir die 2026 Puk-reeks, wat in Maart afskop, voor te berei. “Ek wil seker maak dat ons dwarsdeur die skool dieselfde vlak afrigting handhaaf, van die o. 14C’s tot by die eerste span.”
As ‘n oudleerder van Hoërskool Ermelo, het Mentz slegs goeie herinneringe van sy wedstryde teen NHS. “Dit was altyd moeilik teen die Nellies, want hulle het altyd harde, voortreflike rugby gespeel.”
Hy onthou nog hoe Ermelo in sy 2 000-matriekjaar die Beeld-trofee voor die neuse van NHS weggeraap het. “Dit was ‘n hengse stryd, en ek is opgewonde om nou deel van die NHS-familie te word.”

Op skolevlak het hy Suid-Afrika op o. 16- en o. 18-vlak verteenwoordig en na skool op o. 21-vlak. Hy het daarna vir die Griekwas en die Luiperds uitgedraf en 38 keer vir die Pumas gespeel. Tussen 2007 en 2010 het hy vir die Blitsbokke-sewesrugby gespeel en by die 2010 Statebondspele, ‘n brons medalje vir Suid-Afrika verower.
Mentz is vanaf 2017 die agterlyn-afrigter by die Pumas. Hy was ook al voorheen hulp- en hoofafrigter nadat sy loopbaan as rugbyspeler in 2012 tot ‘n einde gekom het. As afrigter was Mentz deel van die Pumas wat in 2021 die Curriebeker gewen het.
