‘n Bonuspuntwen kos KMI Rhinos
Hoërskool Nelspruit het Saterdag met die tuisveldvoordeel teen Hoërskool Transvalia in die sewende ronde van die Virsekerbeker te staan gekom, terwyl die hokkiedogters gasheer gespeel het vir vriendskaplike wedstryde teen Ligbron.

NHS kon daarin slaag om ses van die nege wedstryde teen Transvalia te wen. Die tweedes, derdes, o/16B- en o/15B-spanne het oortuigend die mas opgekom, terwyl die o/16A’s, en o/15A’s, net-net die wa deur die drif kon trek.
Die o/16’s het Saterdag teen Transvalia ‘n wendroogte na 27 wedstryde gebreek toe hulle dié kragmeting met een punt gewen het. Die eindtelling was 20-19 in die gasheer se guns.
Die Rhinos het met ‘n telling van 19-33 teen die besoekers vasegval en hulle laaste kans om in die uitspele betrokke te wees, verbrou.
Sou die Rhinos in ‘n wen slaag, moes dit met ‘n bonuspunt geskied en die pad vorentoe was hoegenaamd nie geteer nie. In toekomstige wedstryde teen Garsfontein en HTS Middelburg moes die wen ook met ‘n bonuspunt geskied, om enigsins ‘n kans te staan om die uitspeelrondes te haal.
Die o/14A- en B-spanne het ook kleigetrap en is deur die besoekers die loef afgesteek.
“In ons derde jaar van betrokkenheid by die Virseker-kompetisie, is dit verblydend om te sien hoe vurig skole, ouers, die publiek, kenners in die rugbywêreld, ons vennote en die media dit ondersteun,” sê Neil van der Walt, woordvoerder van Virseker.
Die komende naweek skop ronde agt van die Virsekerbeker af met Hoërskool Transvalia wat Hoërskool Menlopark aandurf.
Dié wedstryd kan om 12:30 regstreeks op kykNET gekyk word. NHS kom vandag teen Hoërskool Garsfontein te staan en Hoër Tegniese Skool Middelburg teen Hoërskool Monument. Dit beloof om beslis ‘n naweek van Virsekerbeker-opwinding te wees.
Foto’s: Hennie Homann / www.hhphotoxpress.co.za
Teen Ligbron het sake op die hokkieveld heelwat beter vir NHS gelyk. Slegs die o/16 A-span is van ‘n wen ontneem, terwyl die eerste span oortuigend met 6-0 gewen het, die o/15A’s 4-0 en die o/14A’s 3-1.








