Buurdorpe se spanne vat mekaar aan
Rugbyondersteuners het met kampstoele en verversings gereedgestaan om ’n middag van kookwaterrugby op Lydenburg te geniet.
Die 2022 Laeveldliga is op Saterdag 14 Mei by Rooikatpark voortgesit. Die Rooikatte en die Hazyview Rugbyklub se tweede spanne het op die veld uitgedraf. Hazyview het die tweede span van die Rooikatte met 21-5 getroef. Giovanni Viviers het ’n drie gedruk vir die tuisspan en die spelers van die wedstryd vir die Rooikatte was Karools Roos en Org Theron. Dit was amper gelykop tussen die Rooikatte se eerstes en die Ratels (Burgersfort, Steelpoort en Ohrigstad), maar die Rooikatte het met 20-18 gewen.
Vir die eerste span het Donovan Theart 10 skoppunte aangeteken. Drieë is deur Hilton Boshoff en Giovanni Viviers gedruk. Die spelers van die eerstespanwedstryd was Boshoff, Philip Hennop, Christiaan Labuschagne en Innocent Masinga. Danie Ackermann, die Rooikatte se afrigter, het gesê die wedstryde tussen die Ratels en Rooikatte is altyd kliphard. Die spanne haal die beste uit mekaar uit en het altyd wedersydse respek vir mekaar.
Lees ook: Rooikatte maak skoonskip op Malelane
Foto’s Jenise Colsby.









