Skole se atlete reeds hard aan die oefen
Rob Ferreira se atlete is Saterdag by die Sasol Atletiekklub se Ope-Kampioenskappe in Secunda as die wenspan aangewys.
Hoërskool Rob Ferreira se atletiekvelde was verlede week ‘n miernes van bedrywigheid. Die skool het Donderdag hulle eie interhuis-atletiekbyeenkoms aangebied, terwyl Laerskool Witrivier Vrydag van die velde gebruik gemaak het vir hulle interhuis.
Die eerste kwartaal is propvol atletiek-byeenkomste en die skole begin in die eerste week reeds hul skoolspanne saamstel deur dié prettige byeenkomste.
Verlede week het Rob Ferreira se Gladiators en Warriors kragte gemeet. “Die hele skool was teenwoordig en die grade het in blokke aan alle items deelgeneem,” vertel Somari Basson, kommunikasiebeampte by Rob.
“Afgesien van ‘n bloedige warm dag was dit groot pret en het die leerlinge puik presteer.”
Die Gladiators het die atletiek gewen en die Warriors is met die sangbeker huis toe.
Boonop het 54 atlete van Rob Ferreira Saterdag aan die Sasol Atletiekklub se Ope-Kampioenskappe in Secunda deelgeneem.
Hulle het ‘n totaal van 84 medaljes ingepalm, waarvan 17 goud was, 34 silwer en 33 brons. Rob se atletiekspan was ook die algehele wenner: die seunspan het met ‘n totaal van 115 gewen en die dogters met 88 punte.



