Witrivierse skaakspelers sweet op nasionale vlak
Terwyl menige kind in die eerste week van Januarie nog vakansie gehou het, het jong skaakspelers van regoor Suid-Afrika aan die Suid-Afrikaanse junior skaaktoernooi in Kaapstad deelgeneem.

Die toernooi word elke jaar deur Skaak Suid-Afrika aangebied en hierdie jaar het 2 150 deelnemers vanaf 4 tot 9 Januarie by die Universiteit van Kaapstad deelgeneem.
Anroux Marais, die Wes-Kaapse minister van kulturele sake en sport, het tydens haar openingstoespraak genoem dat sy verheug is oor die feit dat skaak as sport in alle gemeenskappe reg oor die land bevorder word. Sy het ook die deelnemers met die volgende woorde bemoedig: “Skaak gaan nie altyd daaroor om te wen nie. Soms gaan dit daaroor om maar net te leer en so is die lewe ook. Gerald Abrahams het geskryf: ‘’n Goeie posisie wen nie ’n wedstryd nie, maar wel goeie skuiwe.’”
Adriani Ferreira vanaf Gauteng was die jongste speler wat deelgeneem het – ’n skrale vyf jaar oud.
Laerskool Witrivier het vier leerders vir die kompetisie ingeskryf. Behalwe vir die feit dat hulle baie goed gevaar het, beskou hulle dit ook in nabetragting as ’n wonderlike ervaring om saam met meer as tweeduisend ander kinders van regoor die land op nasionale vlak deel te neem.
Juandré Geringer het eerste geëindig in die spankompetisie op bord nommer 8.
Johan Odendaal het drie uit sewe spelle gewen en erekleure ontvang omdat hy vyf jaar in ’n ry op nasionale vlak deelgeneem het.
Die le Roux-broers het ook goed gevaar. Martiens (12), lid van die o/14 A-span, het twee spelle uit sewe gewen en Ruben (10), lid van die o/12 B-span, het gelykop gespeel.
Die o/8, o/10 en o/16-ouderdomsgroepe van die Mpumalanga Laeveldse span het elk algeheel derde geëindig.
Lees ook: Slimkoppe se spel kook in Kaapstad
