Kranige Nellie se droom word waar
Die lenige netbalspeler van Hoërskool Nelspruit, Carmen Cronjé is die enigste van die Laeveld wat by die Suid-Afrikaanse o/18-netbalspan ingesluit is.

Cronjé wat verlede jaar in dié oefengroep ingesluit was, was vanjaar een van 25 spelers wat aan die proewe by Hoërskool EG Jansen deelgeneem het.
Dié span toer in April na Nieu-Seeland, waartydens Cronje haar stempel as hulpdoel sal afdruk.
Wedstryde sal onder andere teen Nieu-Seeland, Australië, Maleisië en Engeland gespeel word.
“As jou drome jou nie bang maak nie, is hulle nie groot genoeg nie. Drome word waar. Dit is vir my ‘n eer en ‘n voorreg om deel van só groep dogters te wees.”
Verlede Junie is ‘n groep van 35 dogters by die Suid-Afrikaanse Skole-netbaltoernooi in Boksburg bekendgemaak. “Dit was nog altyd my droom om die span te haal. Voor die toernooi in Boksburg het ek baie hard gewerk en toe ek daar aankom, toe sien ek almal is langer en almal kan hoër as ek spring. Ek het vir myself gesê as ek nie die span haal nie, sal dit nie die ergste wees nie.”
Net drie spelers uit die hele Mpumalanga het die finale groep van 10 gehaal met dogters wat van so ver as die Kaap af kom.
Dié leerder van NHS het vir die vyfde agtereenvolgende jaar vir die provinsiale span gespeel. “Ek sal aan my fiksheid moet werk en meer beweeglik in die sirkel moet wees. As ek nie op hulpdoel gebruik gaan word nie, sal ek ook aan my verdediging moet werk.”
Die 1,74-meter speler hoop om ‘n netbalbeurs na matriek los te speel en wil graag met die sport aanhou.
“Ek besef ek kan nie ‘n lewe uit die sport maak nie, maar ek gaan hard werk om ‘n professionele speler te word. Ek stres glad nie op die baan nie, nie eens as ek die bal in die ring moet gooi nie.”
Cronjé het nie net ‘n talent met ‘n netbalbal in die hand nie, maar is ook woelig op die atletiekveld.
Tydens Hoërskool Waterkloof se prestigebyeenkoms op Pilditch het sy ‘n tweede plek in die verspringput behaal met ‘n afstand van 5,11 meter en ‘n brons in die 100-meterhekkies met ‘n blitsvinnige tyd van 16,16 sekondes.
Die volgende dogters toer na Nieu-Seeland:
Lauren Adendorf – Montagu High School
Carmen Cronjé – NHS
Nothando Khumalo – Hoërskool Middelburg
Luyanda Khumalo – Hoërskool Secunda
Anika Mac Arthur – De Kuilen High
Connie Msiza – Afrikaans Hoër Meisieskool
Nyeleti Ngobeni – Hoërskool Krugersdorp
Luscha Pienaar – Hoërskool Kempton Park
Janneke Schnetler – Paarl Gimnasium
Lara van Heerden – Hoërskool Waterkloof.
