Manna bied gesinne baie aksie op spesiale dag
Die gesinsdag wat die naweek by Manna Action Centre in Rocky Drift plaasgevind het, het pret vir die hele gesin gebied.
NELSPRUIT – Pret vir die hele gesin word nie sommer agter elke bos uitgeskop nie, maar die gesinsdag wat die naweek by Manna Action Centre in Rocky Drift plaasgevind het, is ‘n uitsondering.
Springkastele, ‘n minute-to-win-it-kompetisie en ‘n mark het almal besig gehou. Die kosstalletjies het die hongerpyne gestil en daar was hope aktiwiteite vir die kinders.
Die tieners was in hul skik met die skaatsplankbaan en verfbal-arena, terwyl die jonger garde kussinggevegte gehou het en in water gedompel is. Iemand sit op ‘n stoel bo ‘n bad water en as sy vriend of vyand ‘n bord met ‘n bal raakgooi, val hy daarin.
Dit was die ideale weer vir dié speletjie met temperature in die 30’s. In die koel saal het ander vir ‘n R500-prys meegeding deur ‘n verskeidenheid uitdagings aan te pak.
Daar was ook perderitte en gesigverf beskikbaar, waaraan die kinders en hul ouers deelgeneem het. Boeke en snuisterrye was te koop voor die verrigtinge teen 16:00 tot ‘n einde gekom het.
