Pumas vorm deel van pienk strik teen kanker
KANSA se Maanlig pretloop vind Woensdag 16 Oktober by Mbombela Stadion plaas.
NELSPRUIT – Die Steval Pumas sal volgende week by die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) aansluit ten bate van
borskanker-bewusmakingsmaand.
Oktober is dié maand en die organisasie en spelers sal saam met die gemeenskap byeenkom om ‘n groot pienk strik op die rugbyveld te vorm.
Dit vorm deel van KANSA se Maanlig pretloop op Woensdag 16 Oktober by Mbombela Stadion. Die ingangsfooi van R50 sluit ook ‘n pienk KANSA-serp in om te dra tydens die vorming van die strik.
‘n Breastathon sal voor die tyd om 18:00 plaasvind. Dit is ‘n 4,2km stappie om die stadion. Hekke sal egter reeds om 16:00 vir ‘n gesondheidskamp oopmaak.
Apteke en mediese sentrums sowel as suster Rona Labuschagne van KANSA Laeveld se sorgsentrum sal stalletjies beman waar borsondersoeke, papsmere en PSA-toetse vir mans beskikbaar sal wees.
Volgens Aletta Williams, gemeenskaps-organiseerder by KANSA, is die vorm van die groot pienk strik die laaste keer in 2010 in Nelspruit aangebied. Inskrywingsvorms is by die KANSA-kantore beskikbaar.
“Ons hoop om meer as 500 vroue, mans en kinders te kry wat deelneem, aangesien borskanker die hele gemeenskap raak,” het Williams gesê.
Buiten ‘n optrede van Natashca C sal twee borskanker-oorlewendes ook die deelnemers toespreek. Navrae: 013-741-5442.
