Moord verdagtes van Lydenburg vrou vasgekeer

LYDENBURG – Die polisie het pas 2 Mosambiekers vasgekeer in verband met die moord op Me Charlotte Kruger wat verlede week in Lydenburg vermoor is. Volgens die kommunikasiewoordvoerder, Mr Mashabela, word die ondersoek voortegesit en is daar vermoedelik 5 ander verdagtes, ook van Mosambiek. ‘n Bejaarde vrou het sinneloos tydens ‘n huisroof gesterf toe kouse …

LYDENBURG – Die polisie het pas 2 Mosambiekers vasgekeer in verband met die moord op Me Charlotte Kruger wat verlede week in Lydenburg vermoor is. Volgens die kommunikasiewoordvoerder, Mr Mashabela, word die ondersoek voortegesit en is daar vermoedelik 5 ander verdagtes, ook van Mosambiek.

‘n Bejaarde vrou het sinneloos tydens ‘n huisroof gesterf toe kouse in haar mond geprop is, ‘n sak oor haar kop getrek is en ‘n kombers bo-oor haar gegooi is. Sy het vermoedelik versmoor as gevolg van die obstruksies in haar mond en oor haar kop.

Die moord het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur en die aandag weer op dié misdaad ,wat wat net nie hokgeslaan kan word nie, gevestig.

Me. Charlotte Kruger (66) en haar man mnr Jacobus Hendrik (Japie) (72) het voor die televisie in hulle sitkamer in ‘n sekuriteitskompleks geslaap toe twee verdagtes toegang tot die huis verkry het.

Volgens Kruger se seun, Vernon, het sy pa wakker geword toe een van die verdagtes ‘n wapen teen sy kop gedruk het.

“Hulle het vir die kluis se sleutels gevra, my pa se hande en voete met binddraad vasgebind, kouse in sy mond gestop en ‘n sak oor sy kop getrek. Hulle het my ma na die slaapkamer geneem waar sy ook vasgebind, haar mond vol kouse gestop, ‘n sak oor haar kop getrek en ‘n kombers oor haar gegooi is.”

Dit is nie die eerste inbraak by Kiewietskroon in die Sterkspruitplotte-area nie. Volgens mnr. Johan Gerben het hulle ongeveer twee weke gelede ook by hulle huis in dié kompleks ingebreek. “My vrou het die betrokke aand wakker geword en gedink daar is ‘n kat in die huis. Sy het haar hande geklap om die dier te verjaag. Dit moes die inbrekers die skrik op die lyf gejaag het. Ons het eers die volgende oggend agtergekom dat hulle by ons probeer inbreek het. Ek het die voorval by die kompleksbestuur en die polisie aangemeld. Daar is geen sekuriteitswag by die hek nie en geen diefwering voor die vensters of skuifdeure nie. Ek het vir hulle gevra of iemand eers moet doodgaan voordat die sekuriteit opgeskerp word.”

Mnr. Eugene Gouws, eienaar van die komplekse het gesê dat sekuriteit opgeskerp gaan word. “Ons gaan ‘n palisade-heining oprig en ook kameras installeer. Inbrake kom oral voor, selfs by plekke met die beste sekuriteit. As verdagtes toegang tot ‘n perseel wil verkry gaan niks hulle verhoed nie. Mense moet ook verantwoordelikheid neem vir hulle eie veiligheid. Bediendes in die kompleks het toegang tot die perseel met afstandbeheer. Inbrekers kan só maklik toegang tot die wooneenhede verkry.”

Gouws het ook bygevoeg dat ‘n buurtwag ook op die been gebring gaan word.

Dit is egter nou te laat meen Kruger se seun. “Ons het die afgelope maand vir ‘n ander blyplek vir my ouers gesoek. Hulle het verlede April in die kompleks ingetrek. toe hulle van Graskop af hier kom aftree het om naby ons te wees. My ouers is onderskeidelik 66 en 73 jaar oud. Watter bedreiging kon hulle tog inhou?” vra hy hartseer.

Kapt. Mabokalate Mashabela, kommunikasiewoordvoerder van Lydenburg SAPD, het die voorval bevestig. “Twee gewapende mans het toegang tot die huis deur die glasdeur verkry. Die egpaar is met gewere aangehou. Hulle hande en voete was vasgebind en monde toegestop. Twee selfone, ‘n plasmatelevisie, ‘n hoëtroustel en ‘n wapen is geroof.”

Die verdagtes is steeds op vrye voet.’n Saak van huisroof en moord is geopen. Mashabela vra dat enige iemand met inligting wat tot ‘n arrestasie kan lei die Lydenburg SAPD by 013-235-1311 moet skakel. Teen druktyd was begrafnisreelings nog nie bekend gemaak nie.

52e80f6fff328054e50ec696

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button