Atlete berei voor vir interlaer met plaaslike byeenkoms
Die jaarlikse interlaer is om die draai en vind op 21 Februarie plaas.
NELSPRUIT – Die aanloop tot die interlaer atletiek-byeenkoms volgende week is besig om momentrum op te tel. Atlete van drie plaaslike laerskole het ter voorbereiding oor die afgelope naweek kragte gemeet met mekaar sowel as teen ‘n skool van Ermelo.
Laerskool JJ van der Merwe se atlete het Saterdag al die pad van Ermelo gereis om by Laerskool Nelspruit teen die gas-skool sowel as Laerskool Laeveld en Nelspruit Primary School mee te ding.
Al drie Nelspruit-laerskole sal volgende Vrydag by Laerskool Witrivier weer tydens die jaarlikse interlaer-byeenkoms dit teen mekaar uitsweet vir medaljes. Niks kon die byeenkoms keer nie, ondanks baie reendae in die aanloop tot die vriendskaplike byeenkoms.
Waar ander skole selfs hul atletiek uitgestel het oor bekommernisse oor die nat velde, het die vier skole se atlete onverpoos meegeding met mekaar.
Die atlete van die gasheer-skool, Laerskool Nelspruit, kon op hul tuisveld ‘n totaal van 512 punte behaal oor al die atletiek-items om die byeenkoms loshande te wen. Laerskool JJ van der Merwe was tweede met 339 punte, met Laerskool Laeveld net ‘n kortkopie agter met 326 punte.
Nelspruit Primary School se atlete kon 266 punte op die bord sit. Vorige resultate tel egter nie vir die interlaer nie, want enigiets kan gebeur op die dag. Hou die Laevelder en die webtuiste dop vir alle inligting oor die interlaer en natuurlik die resultate.
Sien nog foto’s van die byeenkoms hier.
