Jong skeidsregters maak hul buiging
Puma Rugby het die naweek vyf nuwe junior skeidsregters hul eerste sewes-wedstryde laat blaas.

Anro Habig (16), Benine Botha (16), Lizelle van der
Merwe (16), Gene-Marié Kleyn (17) en Johan van der Westhuizen (18) het almal
Saterdag by die Mpumalanga se sewes-klubtoernooi nie net as skadu-skeidsregters
opgetree nie, maar ook ‘n helfte van elke groepwedstryd hanteer. Oubaas Coetzer,
streekskoördineerder van rugby en ondervoorsitter van afrigters en junior
skeidsregsters by Mpumalanga Rugby, was opgewonde oor die jongelinge se eerste
geleentheid om ‘n eerste liga-sewesklubwedstryd te behartig. Die kinders se
ervarings verskil van mekaar, met byvoorbeeld Gene-Marié wat al tydens
Puma-kragmetings die hoofskeidsregter moes volg en Johan wat al ‘n hele wedstryd
met 15 spelers aan ‘n kant geblaas het. Puma Rugby het verdere groot planne vir
hul jong skeidsregters. Volgens Coetzer wil hulle die kinders twee-twee aan ‘n
mentor koppel, sodat hulle tydens wedstryde kan leer en meer ondervinding in
alle vorms van die spel kan kry, met die uitsondering van SuperRugby.
Belangstellendes kan ook op 19 Februarie die Laeveld Skeidsregtervereniging se
vergadering by Laerskool Nelspruit se lapa bywoon.
Navrae: Coetzer by
073-891-5278.
