FeaturesInnibos NuusLifestyle

Bederf jou keel en maag

Lekker kos en drinkgoed op feesterrein.

As jou keel droog is en jou maag is leeg, is dit sowaar jou eie skuld.

Soos elke jaar by Innibos is daar geen tekort aan drank en eetgoed nie. So hier en daar is daar iets allerdaags en gewoon, maar meeste daarvan is iets met ‘n kinkel – iets ongewoon.

Daar word voor-siening gemaak vir duisende se smaak en selfs die fynproewers kan indelf in ‘n paar unieke disse. Daar is talle ou gunstelinge wat feesgangers gemaklik aan kan knaag terwyl daar deur die feesterrein gewandel word.

Hier hou die alombekende Pizza Stroller- stalletjie sy reputasie vol met nie net gemaklike kos nie, maar heerlik ook. Nie ver hiervan af nie maar al die pad van die Karoo kan jy enige iets van beeslewer-sosaties tot egte Karoo-lambkolette geniet.

Wat geen bekendstelling nodig het nie is die Turkse schwarmas, almal praat daarvan – gaan probeer dit self.

Vir die tweede agtereenvolgende jaar is Akker Eykelenboom en Helen Delport terug van Belville met hul heerlike soetpatats en vlokkerige snoek.

Kyk uit vir Kobus se Gat!, die tradisionele veldrestaurant. Kobus reken sy kos is bekostigbaar, van hoë kwaliteit en vinnig – gaan toets dit uit. Wat baie beïndruk is, is dat meeste van die kos gemaak is om lekker gemaklik geëet te word – met ander woorde byna alles is op stokkies. ‘n Nuwe gesig by die fees, maar glad nie ‘n nuwe gesig in die Laeveld nie is Sarel van Sabie met sy vark-samies. Dit word voorberei op ‘n manier wat selde in Suid-Afrika gesien word, so moet dit nie misloop nie – Muskiet beveel dit beslis aan.

Vreetsaam se Lawrenson-broers het weer al die pad van Meyerton gereis om feesgangers met hul ‘Mooo’ se jaffels’ te bederf.

Vir dié met ‘n soettand – bly kalm en eet wafels. Og en sy span weet hoe om ‘n wafel met ‘n verskil te maak – so kyk uit vir die stalletjie met pizza op ‘n stokkie.

As die appelbier, wyn en bier te allerdaags is om jou vol maag met ietsie nats te bederf, probeer iets nuuts en geniet ‘n heerlike cocktail. Net ‘n vreindelike waarskuwing, al proe dit soos koeldrank – is die uitwerkings so effe anders. Probeer gerus die caiparinha’s agter die Standardbank-verhoog.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button