Pumas verloor twee naelbytwedstryde by O/16 Grant Khomo Week
Die Grant Khomo-rugbyweek vir o/16’s het vanjaar sover spogrugby opgelewer met die toekoms van Suid-Afrikaanse rugby wat besonder blink lyk. Die toernooi vind by die Tshwane Universiteit vir Tegnolgie plaas en het op Maandag 7 Julie begin met 20 spanne wat al nege provinsies verteenwoordig. Die toernooi is een van die belangrikste en ook mees …
Die Grant Khomo-rugbyweek vir o/16’s het vanjaar sover spogrugby opgelewer met die toekoms van Suid-Afrikaanse rugby wat besonder blink lyk.
Die toernooi vind by die Tshwane Universiteit vir Tegnolgie plaas en het op Maandag 7 Julie begin met 20 spanne wat al nege provinsies verteenwoordig.
Die toernooi is een van die belangrikste en ook mees unieke skolerugbytoernooie in die sin dat dit krag teen krag meet en daar ook geen amptelike wenner is nie.
Die Pumas het op dag een in ‘n naelbytstryd teen Boland met 22-19 verloor met albei spanne wat kop aan kop vir die grootste deel van die wedstryd was.
Albei spanne kon net twee verdoelde driëe aanteken in ‘n wedstryd waar puik verdediging geseëvier het. Teen halftyd was die telling 7-7 en hierdie trant het in die tweede helfte voortgeduur met albei spanne op 19 punte elk.
In die doodsnikke het Boland se Keenan Lyle Williams ‘n strafskop oorgesit wat die Pumas se koppe laat sak het en Boland in ekstase gehad het.
Op die tweede dag was dit ‘n kwessie van déjà-vu vir die Pumas toe hulle met slegs twee punte teen die Oostelike Provinsie verloor het.
OP senter, Sibabalwe Mzanywa, het ‘n driekuns behaal en Mario Olivier het met sy skopvoet seker gemaak dat Mzanywa se harde werk nie verniet was nie.
Die Pumas se veggees was opmerklik en ten spyte van Du Preez van der Merwe se drie in die skemer van die wedstryd kon hulle nie genoeg doen om OP te klop nie.
