Ringbalgees loop hoog

'n Halfeeu gelede het Dave Erasmus vir Eunice Erasmus op 'n ringbalbaan ontmoet.

MBOMBELA – Dié twee verliefde ringbalspelers het spoedig die knoop deurgehak. Deesdae speel Dave, sy vrou, hul kinders en kleinkinders ringbal vir Sentraal Gauteng-Oos (SGO). 

“Ons is bekend as die Erasmus-ringbalfamilie en hierdie is al my girls,” sê Dave terwyl hy as spanbestuurder vir die SGO-dames-meesterspan, ‘n ogie op beide sy span en die aksie op die baan hou. 

As daar een ding is wat met ringbal geassosieer word, is dit familie. Die hegte band en familie-atmosfeer is iets om te aanskou. Duisende spelers vanuit 14 distrikte in Suid-Afrika het in die nasionale kampioenskappe hier in die stad teen mekaar meegeding.

 

Die sportmangees het hoog geloop en dit was duidelik dat atlete se liefde vir die eg Suid-Afrikaanse sport, brûe gebou het. 

“Daar is geen ander sport wat hierdie atmosfeer kan skep nie, meen Dave. “Ons het drie dogters wat ringbal speel of gespeel het asook ‘n kleinseun wat in die sport uitblink,” vertel hy. 

Volgens Eunice is ringbal ‘n fantastiese sport waaraan al die generasies kan deelneem. 

“By hierdie toernooi speel almal – van o/9’s tot die meesterskategorie. Ons oudste speler speel al vir 65 jaar ringbal – daar is geen ander sport soos hierdie nie.” 

Vir ander families het hul belangstelling in ringbal per toeval begin. 

“Ek en my dogter het van die sport gehoor en toe besluit om te begin speel. Dit is die eerste keer in sewe jaar wat ek speel en dit is Zané se eerste jaar,” sê Elzaan Dodkins van Mpumalanga Laeveld Veteraan-dames. 

“Die lekkerste deel is die gees, almal speel hul harte uit.” Tanja Cloete en haar kinders, Zandré en Chanélle van die Limpopo Ringbalfederasie, het dieselfde paadjie gevolg en het ook aan hul eerste Nasionale Kampioenskappe deelgeneem. 

“Ons het gehoor van mense wat daaroor praat en het toe self begin speel. Dit is vir die seuns ook beter omdat dit ‘n vinniger spel as netbal is,” noem Cloete. Die ringbalgogga het ook vir die Duvenhage-familie gebyt met ma Madelein, pa Francois en dogter Uncke wat almal Gauteng-Oos by die kampioenskappe verteenwoordig. 

“Ek het ringbal begin speel toe ek nege jaar oud was, met my ma en pa wat vier jaar gelede begin het. Nou speel ons almal saam,” sê Uncke.

Vanaf die openingseremonie tot die finale afsluiting het die gees by die 2014 Nasionale Ringbalkampioenskappe soos ‘n onstuitbare fakkel gebrand waar families en gesinne saam doele aangeteken en kleinkinders vir ouma en oupa van die kantlyn af aangemoedig het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button