Onnie se passie onblusbaar

"Ek is net 'n doodgewone onderwyser wat mal is oor die kinders en my vak."

MBOMBELA – Me. Elza Vorster is meer bekend as “Juffrou Vorster” onder die leerlinge vir wie sy die afgelope 25 jaar by Hoërskool Bergvlam Afrikaans huistaal gegee het. En ja, sy kom nuwe leerlinge teë wat sê: “Juffrou het vir my ma skoolgehou.”

Sy het nog nooit ‘n druipeling in haar vak gehad nie en vanjaar se matriekgroep mag haar laaste wees omdat sy met haar 65ste verjaarsdag in Januarie genoop word om af te tree. “Ek is so bang. Wat gaan ek doen sonder die interaksie met die kinders?”

Nie dat sy enigiets buiten besig gaan bly nie. Vorster skryf saam met me. Philna Scholtz die Viva Afrikaanse handboeke wat regoor die land in skole gebruik word. Sy is ook in beheer van Boeke Innibos.

Tog is haar grootste passie – selfs bo boeke en drama – kinders. “Ek is net ‘n doodgewone onderwyser wat mal is oor die kinders en my vak.”

“Kinders weet dadelik of jy daarvan hou om jou vak vir hulle te verduidelik en of jy van hulle hou.” Sy bespreek graag boeke met hulle en gee nie veel om of hulle Afrikaans of Engels lees nie – solank hulle net lees.

Sy is trots op hoeveel van haar leerlinge Afrikaans en Afrikaanse onderwys gaan studeer.

“Maar hulle almal hoef nie, solank hulle net aanhou lief bly vir die taal.” Soos een van haar oudstudente wat een middag in haar klas instap terwyl hy haar nie opmerk nie en vir homself sê: “Ek mis hierdie klas so”. Vorster sê dis seker die grootste kompliment wat sy nog gekry het, maar voeg laggend by dat daar seker ook baie kinders is wat presies die teenoorgestelde voel.

Sy bring ook hulde aan haar man, mnr. Daan Vorster, wat haar nog altyd ondersteun het. Vorster is ‘n kultuurvraat en is een van die redenaarsameroepers wat Vrydag (vandag) 60 radikale redenaars van Vlammies gaan sien deelneem aan ‘n kompetisie waarin die skool al agt nasionale wenners opgelewer het. Vorster bly ook ten spyte van haar selfverklaarde beperkte sing- en dansvermoë nóú betrokke by die skool se revues, iets wat vir menige kind die beste skoolherinneringe bly.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button