Hawelose maak amok met vuur in oop parkie

Sy klere is aan 'n boom gehang, plastieksakke met benodighede het op die grond gelê

Die oop parkie op die hoek van Marble- en Grosskopfstraat het Saterdagmiddag aan die brand geslaan toe ‘n parkiebewoner se vuurtjie vermoedelik versprei het.

Die man maak blykbaar vuur daar om aan sy basiese behoeftes te voldoen.

Met Nelspruit Post se besoek Maandagoggend was die hawelose man skoonveld, maar daar was wel tekens dat hy goed ingeburger is.

Sy klere is aan ‘n boom gehang, plastieksakke met benodighede het op die grond gelê en daar was duidelike tekens dat daar ‘n paar uur gelede vuur gemaak is.

Volgens een van die inwoners in die area, me. Nicolene Potgieter, het sy Saterdagmiddag die brandweer van die vuur in kennis gestel.

Die bure rondom die parkie was bekommerd dat bome na aan hul muur vlam kon vat. Volgens Potgieter het die brandbestryders egter nie lank vertoef nie en moes hulle na ‘n ander toneel haas.

“Dis juis waar die man sit waar die brand begin het,” het sy gesê.

“Na so vyf minute het hulle weer gery, maar in die hoek waar mense rommel gestrooi het, was vlamme nog steeds sigbaar.” Sy het die brandweer toe weer geskakel maar is ingelig dat daar ‘n personeeltekort was.

Maar volgens mnr. Gordon Mlambo, beheerkamerbeampte by Mbombela Brandweer, was daar geen personeeltekort nie en het hulle al hul pligte by alle aangemelde vure die dag nagekom.

Potgieter het gesê hulle kon skaars in hul huis asemhaal met al die rookwalms wat in die lug gehang het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button