Bergvlam hoof gerig op positiewe denke
“Elke dag is ’n uitdaging, maar die grootste een was om op die positiewe te fokus en nie straf as suiwer negatief te sien nie.”
MBOMBELA – Vroue moet leiding neem, toekomsgerig wees en elke geleentheid aangryp.
Dit is die siening van Hoërskool Bergvlam se hoof, me. Annemarie Kleynhans, wat met haar vernude denke en uitnemende persoonlikheid ’n voorbeeld vir alle vroue stel.
Vandat Kleynhans vanaf Oktober verlede jaar aan die stuur van sake is, is daar ’n aantal positiewe veranderinge gemaak wat die skool sover op die regte spoor geplaas het.
“Elke dag is ’n uitdaging, maar die grootste een was om op die positiewe te fokus en nie straf as suiwer negatief te sien nie.”
Kleynhans het sodoende die waardestelsel geïmplementeer waar leerlinge elke maand punte verwerf of verloor, ten opsigte van hoe hul vyf belangrike waardes uitleef.
“Ons het trots, respek, verantwoordelikheid, integriteit en ubuntu as die vyf waardes vir vanjaar geïdentifiseer. Die kinders is baie erg oor hul bonuspunte,” het sy vertel.
Kleynhans se lewensreis het haar van skool tot skool geneem voordat sy haar merk by Bergvlam gemaak het. “Ek het in Johannesburg grootgeword. My ma was die sekretaresse by Hoërskool Vorentoe en ek moes mooi loop want alles wat ek in die klas gedoen het, het by ma uitgekom. My liefde vir die onderwys het daar begin. Destyds was ons nog gekeur om onderwys te gaan studeer en toe die inspekteur kom, het hy gesê, ‘Sit, ek dink jy is reg vir die beroep’.”
Annemarie het by Potchefstroom geswot en vir ’n aantal jare daar gewoon en by Hoërskool Volkskool skoolgehou het. Sy en haar man het toe later na Mbombela verhuis, waar sy vir 15 jaar by Lowveld High se swartborde gestaan het.
“Ek was ’n rukkie uit die onderwys uit en toe sien ek ’n departementele pos in tale by Bergvlam. Ek wou nie meer ’n gewone onderwyser wees nie, en het besluit om die uitdaging aan te pak,” het sy gesê. Annemarie is toe later tot adjunkhoof bevorder en het einde 2012 in die hoof se skoene getree.
“Dink die Here ek is goed genoeg om hierdie pos te doen? Dit was hierdie verwondering en absolute dankbaarheid dat ek hierdie wonderlike geleentheid gekry het, wat eintlik vir min vroue beskore is. Ek dink die grootste struikelblokke vir vroue is hulle gesinne, veral as hulle klein kindertjies het. Om hoof te wees eis baie ekstra ure en harde werk, jy is in twee geskeur want jou plig lê hier maar jou hart lê by jou kinders.”
Kleynhans het ook seker gemaak dat die bemarking van die skool opgeknap word, met ’n splinternuwe webblad en die voortdurende beleggings in die skoolblad, Die Onderonsie, wat grootliks deur die leerlinge gekonseptualiseer en geskryf word.
“Dit is ongelooflik gewild onder die kinders,” het sy genoem. “Stap is vir my ontlading en ons hele gesin is stappers. Lees is ook vir my wonderlik en as ek eers tyd kry om gedurende die vakansie ’n boek oop te maak, moet ek uitgelos word.”
Kleynhans soek net die beste vir die skool en gaan op Vrouedag nie soos menigte ander in ’n spa sit of gepamperlang word nie, maar gaan eerder skolerugby kyk.
“Op Vrouedag speel ons seuns in die Noord-Vaal-uitspeelwedstryde, so ek gaan beslis by die rugby op Mbombela Stadion wees om hul te ondersteun,” het sy met ‘n trotse glimlag gesê.
