Staatsaanklaer vind aanklank by natuur

"Ek het 'n passie vir diere, ek praat baie en ek wonder altyd oor goed. Dit het natuurlik gekom dat ek al hierdie karaktertrekke in een werk sou kon gebruik."

WITRIVIER – “Jy moet nie regte studeer nie, want dit is nie ‘n plek vir ‘n vrou nie.” Dit is wat doemprofete vir staatsaanklaer Isabet Erwee gesê het, toe sy met haar nuuskierige persoonlikheid besluit het om na ‘n mislukte B.Com-kommunikasiekursus ‘n loopbaan in die regte te betree.

Nou meer as 15 jaar later is sy een van die suksesvolste en doelgerigte staatsaanklaers in die Laeveld wat haarself daagliks met renosterstroper- en ander omgewingsmisdaadsake besig hou. Sodoende word haar liefde vir diere nou in haar werk geïnkorporeer.

“Ek het ‘n passie vir diere, ek praat baie en ek wonder altyd oor goed. Dit het natuurlik gekom dat ek al hierdie karaktertrekke in een werk sou kon gebruik.”

‘n Pluimpie vir Isabet is toe sy as staatsaanklaer verlede maand geskiedenis gemaak het, met die vonnisoplegging van ‘n renosterstroper vir ‘n rekord van 77 jaar.

“Dit het vir my meer rondom die beginsel agter die moordklagte gegaan en nie noodwendig die hoeveelheid jare nie. My kollegas het my baie met daardie saak gehelp. Spanwerk is baie belangrik in my beroep,” vertel sy.

Volgens Isabet is passie ook ‘n baie belangrike aspek. “‘Jy moet geniet wat jy doen en met mense betrokke raak wat jy as klankbord kan gebruik en wat jou bystaan.” Isabet se een vriendin wat dieselfde graad by Tukkies studeer het en in dieselfde kommune gewoon het, het toe in Soweto begin aankla.

“Toe sy dit geniet het, het ek geweet dat ek ook sou.”

Isabet se eerste groot saak wat sy hanteer het was in Soweto, waar sy met nuwe oë na die wêreld begin kyk het.

“Dit was vir my ‘n wonderlike ervaring. Ek het so baie van verskillende kulture geleer en hoe om in sekere situasies op te tree. My eerste saak wat ek onthou was ‘n dwelm een waar die hele onderkant van die huis in Soweto ‘n vals bodem gehad het, waar saamgeperste dagga gestoor is.”

Daar het sy besef in watter omstandighede vroue daagliks in Suid-Afrika verkeer en hoe baie van hulle nooit as gevolg daarvan, hul volle potensiaal bereik nie.

“Ek is van mening dat daar in landelike gebiede ‘n klasverskil tussen mans en vroue wat dikwels tot hulle onderdrukking lei.”

Dit is hoekom Vrouemaand so belangrik is, meen Isabet. “Dit dra daardie boodskap uit om onafhanklik te wees en om jou ideale na te streef.”

Haar susksesgeheime is haar man se ondersteuning en haar sterk geloofsoortuigings. Sy woon al vier jaar saam met haar man, Canzius, in die Laeveld en glo dat hulle mekaar aanvul eerder as wat hulle van mekaar afhanklik is.

“Ek het ‘n baie goeie man wat verstaan as ek min by die huis is en wanneer ek met sake besig is. Ons maak egter ook tyd vir mekaar.”

Isabet was juis saam met haar man op pad Durban toe, toe hul ‘n brosjure by ‘n tolhek kry wat haar liefde vir perdry aangewakker het. “Ek het nog altyd baie van perde gehou en dis iets wat ek nog altyd baie graag wou doen.

“Nou het ek die skoot hoog deur. Monty (haar perd) is baie liefdevol,” vertel sy met ‘n breë glimlag. “Een keer in Barberton het ek van hom afgeval toe ‘n ponie voor ons ingehardloop het.

“Ek het harsingskudding as gevolg van die val opgedoen.

“Hy het sy gesig so oor my gehou en by my gebly totdat paramedici opgedaag het. Hy is baie lojaal,” voeg sy by.

Buiten haar werk en haar buitemuurse aktiwiteite is dit vir haar belangrik om ‘n sterk geloof te hê, waaruit sy krag put om al haar uitdagings te hanteer.

“Wanneer ek ‘n saak doen en ek nie meer weet wat om te doen nie dan vertrou ek in die Here se krag. Ek kry dan rustigheid. Dit is vir my baie belangrik dat geregtigheid geskied.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button