Dewald Wasserfall se nuwe album amper gereed
Hy was nog nooit daarvoor bekend dat hy die hoofstrominge volg nie en hierdie keer gaan hy die grense selfs verder verskuif.

Aanhangers van Dewald Wasserfall sal verheug wees om te hoor dat diegroot gewag amper verby is. Dewald se nuwe album, Ek En Jy, sal binnekort die winkelrakke tref.
Na die sukses van “Vergeet wat jy weet van liefde,” “Eendag as ons groot is” en “Sewentien” vanaf sy vorige album waarvoor hy die Ghoema- en Tempo-toekennings vir beste nuweling gewen het, beloof Dewald en Johan Vorster saam met wie hy aan die album geskryf het, dat dit ‘n vars aanslag gaan hê wat nuwe standaarde vir Afrikaanse musiek daar gaan stel. Die bekende musikant Christoph Kotze is ook by die skryf van die album betrokke.
Dewald was nog nooit daarvoor bekend dat hy die hoofstrominge volg nie en hierdie keer gaan hy die grense selfs verder verskuif. Nuwe teksture, nuwe klanke en liedjes wat selfs dieper dinge gaan aanspreek is deel van vele verrassings op die nuwe album.
Boonop beplan Dewald nie net om ook later in die jaar op ‘n landswye toer te vertrek om die album te bemark en by sy bewonderaars uit te kom nie, maar hy sal ook deel wees van Afrikaans is Groot 2014. Nog net so klein rukkie se gewag bly oor vir een van die jaar se grootste Afrikaanse uitreikings.
