Pumas stut blink uit in nuwe posisie
"Dit gaan alles oor jou houding, en dit bepaal jou suskes. Jy kan belsuit om tou op te gooi, of harder te werk om jou potensiaal te bereik."
Om in ’n splinternuwe posisie te speel en dan boonop deur die nasionale rugbymedia in daardie posisie as die beste speler in vanjaar se Curriebekertoernooi aangewys te word, sit nie in enigiemand se broek nie.
Vincent Koch, vaskopstut van die Steval Pumas, het met sy positiewe houding en harde werk daarin geslaag om van loskopstut na vaskopstut te beweeg en pluk in vanjaar se Curriebekerreeks die vrugte daarvan.
“Dit gaan alles oor jou houding, en dit bepaal jou suskes. Jy kan belsuit om tou op te gooi, of harder te werk om jou potensiaal te bereik,” vertel Koch.
Koch se pad na vaskopstut is een waar die saad al geplant is toe sy vier jaar lange kontrak by die Blou Bulle nie hernu is nie.
In daardie stadium het Koch self gewonder of ’n loopbaan in rugby vir hom beskore is.
Steval Pumas se afrigter Jimmy Stonehouse het hom egter raakgesien… en die res is geskiedenis.
“Ek was nog altyd ‘n loskopstut en hierdie jaar speel ek vir die eerste keer vaskopstut. Dit is werklik lekker, maar was aanvanklik ook ’n uitdaging gewees.
“Ek weet gewoonlik wat ek teen ’n vaskopstut wil doen, maar nou moet ek op ’n ander manier skrum en dit vereis baie meer krag om die teenstanders se skrum onder druk te plaas,” gaan hy voort.
Volgens Koch het Stonehouse vas geglo dat hy die nuwe posisie baas sou raak as hy in elke wedstryd 100 persent gee.
“Jy kan vir die Springbokke op vaskop uitdraf, het coach Jimmy vir my gesê.”
Een van die grootste redes vir Koch se sukses, is die ondersteuning wat hy van sy ouer broer, Divan ontvang.
“My broer was nog altyd daar vir my gewees en is my grootste held. Toe ons op skool was, het hy my dikwels uit die bed kom haal om te gaan rugby oefen, al het die gereën. Ons het toe altwee die Boland span gehaal. Hy het my daardie motivering gegee om aan te hou glo. Ek kyk baie op na hom.
“My broer ondersteun my 100 persent. As mense op my Facebookblad gaan, kan hulle dalk dink dat hy my agent is,” skerts Koch.
Koch het ook al die groen en goud oor sy kop getrek, al was dit nie die amptelike Springboktrui nie, toe hy verlede jaar tydens die 2013 IRB Tblisi Cup vir die Suid-Afrikaanse President XV uitgedraf het.
Die Suid-Afrikaanse President XV het al drie hul wedstryde gewen en is met die beker huis toe.
“Die hele toernooi was great gewees. Die fasiliteite was wêreldklas en die geleentheid om teen internasionale spelers van Uruguay, Georgië en Ierland te kon speel, was ’n belewenis. “Dit was ’n baie spesiale oomblik om die Springbokbaadjie te ontvang,” vertel Koch.
“Ons het klipharde rugby daar gespeel wat ontsettend fisies was. Die manne in Georgië lyk almal soos sterkmanne.”
Stutte druk nie altyd baie drieë nie, maar Koch is een wat daarvan hou om bal in die hand ’n paar meter vir die Steval Pumas te wen.
“Ek probeer om orals op die veld te wees en die span in soveel fasette as moontlik te help. Ek wil nie net skrum en in lynstane help nie maar ook ’n groter rol in beide verdediging en aanval te speel.”
Een van Koch se groot drome is om teen die All Blacks te speel en op die veld te staan wanneer hulle die Haka doen. Maar vir nou fokus Koch op die Curriebeker en om die Pumas te help om ’n tuissemifinaal in vanjaar se reeks te kry.
“Waar ek nou by die Pumas is, is ek baie gelukkig. Ek is geseënd om elke naweek vir die span in die Curriebeker op te draf. Dit is ’n groot eer.”
