Reik ‘n helpende hand aan die gemeenskap
Daar is ’n voorlopige bestuurspan aangestel wat die eerste stappe sal neem om die tak aan die been te bring.
Daar is ’n behoefte vir almal om ’n hande vas te hou en betrokke te raak by diegene wat nie al die basiese behoeftes het nie.
Solidariteit Helpende Hand het op 18 September 2014 ’n gemeenskapsvergadering gehou waar hul ’n nuwe voorlopige bestuurskomitee
aangestel het.
Die nuwe gestigde Nelspruit tak van Solidariteit Helpende Hand is nog vroeg in sy bestaan, maar beoog om ’n daadwerklike verskil in die stad se Afrikaner gemeenskap te maak.
“Hierdie sal die tweede tak wees wat ons in die dorp begin, nadat ons onlangs die Pêrels vir Jesus tak in West Acres begin het, noem Alisha de Lange, streekorganiseerder van Helpende Hand in Mpumalanga.
Die vergadering het onder andere gehandel oor Helpende Hand se bydrae en impak op die groot kwessies vir wit Afrikaners in Suid-Afrika soos wit armoede en werkloosheid. De Lange het die wit plakkerskampe rondom Johannesburg en Pretoria asook die impak van die platinummynstakings in Rustenburg as voorbeelde uitgebeeld.
Daar is ’n voorlopige bestuurspan aangestel wat die eerste stappe sal neem om die tak aan die been te bring.
Volgens de Lange moet daar planne in plek gestel word om te verseker dat dieselfde rampsituasie wat Rustenburg beleef het ook nie in Mpumalanga gebeur nie.
“Dit is iets wat sluimerend voorkom en dit is belangrik om vir alle eventualiteite gereed te wees. Ons wil probeer om soveel takke as moontlik in die Laeveld en Mpumalanga te begin,” het De Lange genoem.
“Ons wil ook saam met bestaande plaaslike organisasies soos die VLU (Vroue Landbou-Unie), SAVF (Suid-Afrikaanse Vroue Federasie) plaaslike besighede en Afrikaanse kerke en ander belangstellende groepe hande vat.”
Die tak sal uit ’n voorsitter, onder voorsitter, sekretaris, tesourier en ander projekleiers bestaan. Elke lid sal ’n aftrekorder van R50 per maand teken. Die tak sal R 6000 om mee te begin met die tak se geld wat sal vermeerder afhangende van hoeveel lede aansluit en ook bydrae tot die tak.
“Alle besluite sal op bestuursvlak besluit word. ’n Projekplan is ook belangrik om seker te maak dat als met ’n doel en visie gebeur en deeglik uitgevoer word,” het De Lange beklemtoon.
