Nuwe raad wil jeug op voete kry
Verskeie persone het die probleem van drankmisbruik onder jeugdiges beaam en saamgestem dat die tyd aangebreek het om dit op 'n meer konstruktiewe basis aan te spreek.
MBOMBELA – Drankmisbruik onder die jeug is een van die grootste probleme in die samelewing en is iets wat die Oppivoete-stigting wil aanspreek sodat jongmense selfstandig met hul voete op die grond kan lewe.
Oppivoete se stigtings-vergadering het Maandag by die Evangelies-Geformeerde Kerk plaasgevind waar die eerste stappe geneem is om hierdie kwessies aan te spreek.
Antonetta Malan, koördineerder van Oppivoete, het ter agtergrond ‘n oorsig van die ontstaan van die stigting aan die mense gegee. “Dit het tyd geword om ‘n amptelike organisasie op die voete te bring en sake soos ‘n grondwet, fondsinsameling, werkswyse en registrasie as nie-winsgewende organisasie aan te spreek,” het sy verduidelik.
Verskeie persone het die probleem van drankmisbruik onder jeugdiges beaam en saamgestem dat die tyd aangebreek het om dit op ‘n meer konstruktiewe basis aan te spreek.
Algemene kwessies wat bespreek is, is dat die jeug van die Laeveld oor die verantwoordelike gebruik van drank by enige funksie, ingelig en opgevoed moet word. Drankwinkels moet ook oor verkope aan minderjariges aangespreek word.
Daar is ook klem gelê op die ouers se verant-woordelikheid om hul kinders veilig te hou en die gevare van drankmisbruik te verduidelik. Ouers moet ook meer verant-woordelikheid vir hul eie kinders aanvaar.
Die persone wat hulself gewillig verklaar het om op die bestuur te dien, is Ockert Brits, Antonetta Malan, Gerhard Knoetze, André Greyling, en Thys Erasmus.
Brits het ook voorgestel dat daar nog ‘n vergadering gehou moet word om meer mense te betrek.
Die volgende vergadering vind om 18:00 op Maandag 13 Oktober by die Evangelies-Geformeerde Kerk plaas.
