EntertainmentFeaturesFoodLifestyle

Wild en warm boskos is bobaas

MBOMBELA – Hy lyk ál te gemaklik in sy Springbok-trui en rooi voorskoot agter die gasbraai. Ben Kruger sou sy Saterdag op geen ander manier spandeer nie. Hy het gaste Saterdag by Stoep met ‘n resep uit sy eerste kookboek, Wild en Warm, getrakteer. Hy wou nie sy boek met vervelige geselsies bekendstel nie, toe …

MBOMBELA – Hy lyk ál te gemaklik in sy Springbok-trui en rooi voorskoot agter die gasbraai. Ben Kruger sou sy Saterdag op geen ander manier spandeer nie.

Hy het gaste Saterdag by Stoep met ‘n resep uit sy eerste kookboek, Wild en Warm, getrakteer.

Hy wou nie sy boek met vervelige geselsies bekendstel nie, toe braai hy ‘n heerlike, bottersagte beesfillet, gevul met boerewors, ingespuit met Jack Daniel’s en met basiliekruid besprinkel. Die boek bestaan uit sowat 120 bosresepte, die meeste van hulle Ben se eie. “Die resepte is spesifiek op wildsvleis gefokus en kan op ‘n oop vuur in ‘n boskamp gemaak word.” Maar, soos Ben Saterdag bewys het, kan die resepte met enige vleis, oor enige vuur gemaak word.

“Die boek is tweetalig,” sê Ben, “so as jou gaste Engels is, kan jy in Engels kook en as hulle Afrikaans is, in Afrikaans.”

Die saamstelling van die boek het omtrent ‘n jaar geneem. “Ek het vir baie lank vir die ouens van Wildland-tydskrif gekook toe ons besluit om maar net alles in ‘n kookboek saam te vat.”

As die manne gaan jag, gaan Ben maar net saam om te kook, want sélf jag hy nie eintlik nie. “Ek is lief vir kosmaak en alhoewel ek nie genoeg daar uitkom nie, baie lief vir die bos ook.” Hy het homself by verlede jaar se Innibos as bobaas-potjiekossjef bewys toe hy man-alleen 50 verskillende potte gemaak het. “Dit was lekker en challenging, maar ek sal dit nooit weer doen nie.”

Ben het nog twee kookboeke in die pyplyn: ‘n potjiekos- en ‘n bospoedingboek. “Dis net moeilik om resepte te kry vir poedings wat in die bos gemaak kan word, soos malvapoeding op ‘n klip op ‘n vuur, so daardie boek gaan omtrent nog ‘n jaar neem.”

Wild en Warm is landswyd teen R275 by geselekteerde CNA- en Pick n Pay-takke beskikbaar en kan ook by Stoep in Mbombela gekoop word.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button