Hope sukses vir jong stoeisensasie

Stoei leer dissipline, karakter en bemoedig vir een spesifieke Laeveld-seun wat na jare se gestoei uiteindelik sy plek in die samelewing gevind het. Neels Smit (15) is hierdie maand as Nelspruit Stoeiklub se stoeier van die jaar aangewys en spog met talle medaljes en trofeë. Dié leerling van Hoërskool Rob Ferreira leef elke dag sy …

Stoei leer dissipline, karakter en bemoedig vir een spesifieke Laeveld-seun wat na jare se gestoei uiteindelik sy plek in die samelewing gevind het.

Neels Smit (15) is hierdie maand as Nelspruit Stoeiklub se stoeier van die jaar aangewys en spog met talle medaljes en trofeë. Dié leerling van Hoërskool Rob Ferreira leef elke dag sy passie met ywer uit wat hom hoop in sy lewe gee.

“Niks was nog vir Neels maklik nie en hy moes met elke greintjie van sy wese met verskillende uitdagings stoei,” vertel sy ma Adéle.

“Neels is van moederskoot af dwars van normaal. Hy was ‘n brugbaba en het in alles gesukkel terwyl sy ander maats take maklik reggekry het.

“Wanneer Neelsie sy kop in die klaskamer laat sak en nie konsentreer nie, verloor hy inligting en, net soos in stoei, kan hy nie sy kop op die mat laat sak nie. Dit leer hom om sy kop hoog te hou,” vertel sy.

Neels het in die jaar wat hy stoei, verskriklik vinnig aangepas en meer medaljes en toekennings gekry as ‘n stoeier wat al drie jaar stoei.

Gedurende die SA Kadet-kampioenskappe in Menlopark in Pretoria in Junie-vanjaar het Neels in die grieks-romeinse afdeling ‘n brons-medalje gewen terwyl hy silwer in vrye-styl gekry het.

Neels het begin stoei nadat sy pa hom en sy jonger broer, Johny aan die sport bekend gestel het. Hulle is deel van die Nelspruit Stoeiklub onder die ervare afrigter, Oom Hannes Kruger.

“Hy laat ons nooit rus nie en leer ons om nooit op te gee nie. Hy sal ons spierverslappers en hoofpynpille gee, maar ons sal aanhou om te baklei en nie ons koppe laat sak nie,” vertel Neels.

Die broers oefen ook teen mekaar en hoef dan nie na maats by die klub te soek om mee te stoei nie.

“Dit is baie voordelig want ons dink dieselfde en ons daag mekaar uit om te sien wie die ander een kan uitoorlê. As ons nie ‘n maat binne 10 sekondes het nie, moet ons opstote doen,” vertel die kranige jong stoeier.

Daar is hoofsaaklik twee tipes stoei wat die twee Smit-broers by die klub doen, naamlik vrye-styl en grieks-romeins.

“Die verskil tussen die twee is dat ‘n mens jou hele lyf in vrye-styl gebruik terwyl jy in grieks-romeins slegs met jou bolyf stoei,” verduidelik Neels.

Volgens Neels is daar ook ‘n hele paar reëls wat stoeiers moet onthou om seker te maak dat hulle as wenners uit die stryd tree.

“Moenie jou rug draai nie, moenie jou kop laat sak nie en moenie op die mat vasgepen word nie. Moet nooit teruglê nie en kyk jou teenstander in die oë. Lyftaal bepaal hoe die geveg verloop,” het hy vertel.

Albei broers is ook vasbeslote om hul stoeiloopbane nog ver te voer en eendag aan groot wêreldkompetisies deel te neem.

“Ek wil Afrika-spele toe gaan!” sê Johny entoesiasties terwyl Neels graag eendag ‘n goue medalje by die SA Spele wil verower.

Volgens Adéle het stoei ook hulle familie baie na aan mekaar gebring.

“Ons kry baie tyd om saam met die kinders deur te bring en ons is baie geheg aan mekaar. My man oefen ook gereeld saam met hulle en maak seker hulle bly fiks en aktief.

“Daar is vrede in my seun se hart. Hy het sy roeping gevind.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button