EntertainmentLifestylePeople

Oudspioen laat van sy ape uit die mou

Dit was laat Donderdagaand toe Laevelder vir BlouWillem by Jock met 'n glas wyn of twee in 'n wip gevang het.

MBOMBELA – “Gebruik die karikatuur wat ek destyds van myself vir my rubriek gekribbel het.  Hulle sê in elk geval dit lyk meer soos ek as wat ek soos ek lyk,” spot Willem Theron.  Julle ken hom as BlouWillem, skrywer van ‘n weeklikse rubriek BlouWilleMaandag wat weekliks in ‘n dagblad verskyn.  Hy skryf ook ‘n rubriek Liewe ouboet Tom vir ‘n Kaapse dagblad en Vrystaters lees van sy vriende, soos Dik Daan, in húlle koerant.

Dit was laat Donderdagaand toe Laevelder vir BlouWillem by Jock met ‘n bottel wyn of twee in ‘n wip gevang het.

Die ware Jakob onthul toe dat BlouWillem op sy dag ‘n spioen was – vir Nasionale Intelligensie nogal.
Joernalis wat ek is, gooi ek toe maar vir Blouwillem strategies nog ‘n glasie terwyl ek die notaboekie nader trek.

Voordat Willem blou geword het, het hy ook matriek geskryf.  Dit was in 1969. Hy het studeer en sy meestersgraad in stedelike terrorisme verwerf. Met dié kwalifikasie het hy werk gekry by die Buro vir Staatsveiligheid, wat later jare as die Nasionale Intelligensiediens bekendgestaan het, waarvan hy ‘n direkteur was.

Blouwillem vertel van die aand toe oudpresident FW de Klerk vir oudpresident Nelson Mandela gaan vertel het dat hy die volgende dag vrygelaat sou word.  Dit was die aand van 2 Februarie, 1990.  ‘n Handjievol mense was daar toe mnre. Mandela en De Klerk die gesprek agter geslote deure gevoer het.

Alhoewel mnr. De Klerk en sy garde planne gehad het om mnr. Mandela elders heen te vlieg vir die vrylating-seremonie, het mnr. Mandela voet by stuk gehou dat hy uit die Victor Verster-gevangenis, waar hy toe aangehou is, wou uitstap.  De Klerk moes hieroor met sy raadgewers gesels en dis toe dat Blouwillem en Nelson Mandela saam in ‘n kabinetskamertjie ‘n paar woorde gewissel het.

“Did they tell you” vra Blouwillem?
“Yes” het Nelson Mandela geantwoord.
BlouWillem het hom gelukgewens en sê dat mnr. Mandela se volgende kommentaar hom altyd sal bybly.
Hy het die kunswerke in die kabinetskamer bekyk. “Ek sien hier is kosbare kunswerke – onder andere deur Pierneef. Waarom dit hiér hang waar so min mense dit kan sien en waardeer?”
“Dat iemand wat vir 26 jaar in die tronk was, hierdie kuns só kon waardeer was merkwaardig,” sê Blouwillem.

Hierna het Nelson Mandela oor Blouwillem uitgevra. Hy wou weet of hy kinders het, hoe oud hulle is, en hoe dit gaan met sy vrou.  In antwoord op wat die eerste ding is wat Mandela gaan doen sodra hy vrygelaat word, het hy gesê dat hy sy tuisdorp, Qunu, in die Transkei wil gaan besoek.  Hy is op 15 Desember verlede jaar daar begrawe.

“Interessant genoeg,” vertel Willem, “het ons jare later uitgevind dat mnr. Mandela sy laaste rukkie in Victor Verster in ‘n woonhuis deurgebring het wat vir my niggie en haar gesin ontwerp is.  Die Roux gesin – sy is Ansie Roux – het grond langs die tronk besit en wou ‘n huis daarop bou.  Die huis is ontwerp en gebou en die tronk brei toe in daardie rigting uit.  As deel van Mandela se intergrasie in die gemeenskap, is hy van ‘n sel oorgeplaas na die huis op die tronk se perseel. ”
Hy is ook vir ritte in Kaapstad geneem in die laaste tydperk van sy gevangenskap, sodat hy kon gewoond raak aan hoe die wêreld in 26 jaar verander het.  In daardie tyd was daar nie selfone en vinnige stuur van foto’s nie. Die veranderinge was groot en nuut.
Die departement het daarom vir hom toere gereël Kaapstad toe.

Die enigste foto wat met hierdie aankondiging van mnre. Mandela en De Klerk by Tuynhuys geneem is, is deur ‘n interne fotograaf geneem.  Geen joernaliste is toegelaat nie en die foto sou ook nie uitlek nie. ‘n Donkerkamer is gehuur sodat die foto in die geheim ontwikkel kon word.  Dit was Blouwillem se werk om die proewe aan mnr. De Klerk voor te lê.  Laasgenoemde het die regte foto gekies wat toe daardie Sondag wêreldwyd versprei is tesame met die groot nuus dat Nelson Rolihlala Mandela uiteindelik bevry sou word. Dit het op 11 Februarie 1990 gebeur.

Blouwillem het vir nog vyf jaar by Nasionale Intelligensie gewerk, waar hy ook mediaskakelbeampte was.  Hierna het hy as mediaskakelbeampte vir Swem Suid-Afrika opgetree. Blouwillem doen nou skakelwerk vir Kovsies se Alumni-trust en reis Suid-Afrika plat in hierdie hoedanigheid.

“Hoe is Blouwillem gebore?” wonder ek. Hy heet blykbaar al jare so, maar het in 1999 onder hierdie skuilnaam begin skryf. Sy boeke, Blouwillestories en Willer Blouwillestories kan glo nie opgevolg word deur Wildste Blouwillestories nie, omdat dit eenvoudig te rof sal wees. Wonder wat Liewe ouboet Tom en Dik Daan daarvan sal dink?

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button