Vermeende diewe van vele misdade aangekla

Hulle saak hervat volgende jaar nadat 'n binneverhoor die hofverrigtinge onderbreek het. Hulle het glo tussen 17 Februarie en 25 Maart 7 rooftogte gepleeg.

MBOMBELA – Drie beskuldigdes wat tereg staan op agt kriminele klagtes, moet weer in Mei aanstaande jaar in die Rondgaande Hoër Hof in Mbombela verskyn. Hulle word onder andere van moord, huisbraak, roof en aanranding aangekla.

Mnre. Mongezi Penuel Mdluli (24), Boet Mcolisi Nkosi (23) en Whitey Vincent Lekhoane (32) het na bewering tussen 17 Februarie 2013 en 25 Maart 2013 verskeie rooftogte in die KaBokweni-omgewing uitgevoer.

Hulle word daarvan aangekla dat hulle op 17 Februarie die eerste van ‘n reeks misdade gepleeg het deur by die huis van me. Deliwe Moyo in te breek, haar aan te rand en haar LG-televisiestel en Nokia-selfoon te steel. Twee dae later het hulle glo vir me. Thandy Zungeni en haar huisgesin geteiken en hulle is daar weg met ‘n televisie, ‘n hoëtroustel en drie selfone. Op 10 Maart het hulle na bewering toegeslaan op me. Zandile Shongwe. Tydens hierdie inbraak is haar televisiestel, tuisteater, twee selfone en R1 500 kontant gebuit.

Na ‘n onderbreking van vyf dae het die drie weer toegeslaan en glo drie selfone uit die huis van mnr. Nboyoa en me. May Prudence Mabunda gesteel. Hulle word daarvan aangekla dat hulle mnr. Mabunda doodgeskiet het toe hy hulle teëgegaan het. Hierna is mnr. Gladwell Mashaba se woning op 20 Maart geteiken en ‘n skootrekenaar en twee selfone weggedra. Die drie vermeende rowers het hierna ‘n universiteitshandboek tot hul versameling gevoeg toe hulle glo by me. Happy Madolo ingebreek en haar besigheidstudiehandboek, ‘n skootrekenaar, ‘n selfoon en haar handsak gesteel het.

Die laaste slagoffers in die drie se string misdrywe was mnr. Bongiwe Nyulundu en me. Tapelo Nyulundu by wie hulle drie selfone afgeneem het.

Die inbrake is almal uitgevoer terwyl die drie glo in besit van ‘n 9mm- Vektor-pistool en ammunisie was. Hulle word van die onwettige besit daarvan aangekla.

Verlede week se hofverrigtinge is onderbreek deur ‘n binneverhoor toe Mdluli beweer het dat sy polisieverklaring nie as getuienis teen hom gebruik kan word nie, omdat dit hom inkrimineer en nie vrywillig gemaak is nie.

Hy het gesê dat die polisie hom aangerand het voor die maak hiervan, maar sy bewerings is nie genoegsaam bewys nie en die verklaring is wel as getuienis toegelaat.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button