Kragtige Huracàn maak hom tuis op Suid-Afrika se paaie
Die Imperial Groep, ‘n maatskappy wat ook onder andere die verspreiders van Lamborghini-motors in Suid-Afrika is, het pas die eerste Lamborghini Huracàn in die land ontvang.

Die Huracàn vervang die Gerlardo-model wat sedert 2003 die intreemodel in die Lamborghini-reeks is, en die Huracàn is dan ook die een wat jou teen ‘n prys van R4 750 000 ‘n eienaar van ‘n rasegte Lamborghini maak. Die ander model wat in Suid-Afrika beskikbaar is, is die Aventador, wat net ‘n raps oor R7 miljoen kos.
Die Huracàn se topsnelheid is 325km/h terwyl die Aventador s’n 350km/h is. Die res is akademies. Vir R3 miljoen minder as die Aventador, is dit nie ‘n suinige koop nie, want die Huracàn is suiwer Lamborghini. Sy 5,2l v10-enjin het ‘n kraglewering van 448kw@8250r/min. Sy wringkrag, 460Nm@6500r/min, maak van hom ‘n tydmasjien. As jy die versneller trap, is jy oombliklik waar jy wou wees, ver voor in die pad.
Met die loodsing van die Lamborghini Countach in 1974 het Lamborghini na die supersportmotormark beweeg. Met die Countach het die bestuurservaring van ‘n Lamborghini ook verander. Voortaan sou hulle nes die bulle na wie die verskillende modelle vernoem is, mee geveg moes word. Jy moes jou bestuur ken om al die perde te beheer en met die swaar stuur te worstel.
Die Huracàn laat jou steeds besef dat dit ‘n Lamborghini is en nie ‘n kat wat jy sonder handskoene kan aanpak nie, maar daar is ‘n beter gevoel van kontrole en beheer as in die vorige modelle.
Die sitplekke wat elektronies verstel is, is besonders gemaklik. Die binnekant van die motor self is besonders gebruikersvriendelik. Die Huracàn het ook nou ‘n rekenaarskerm bo die middelkonsole soos luukse weelde motors om die gerekaniseerde inligting en musieksentrum te beheer. Met die Huracàn is hierdie Lamborghini nie net ‘n kragmonster nie, maar ook ‘n geriefsmotor.
Dit het ‘n 7-spoed outomatiese ratkas met pedale aan die kante van die stuurwiel om dit in handratformaat te gebruik. Daar is dus die geriefsvoordeel van ‘n outomatiese ratkas, maar ook die werkverrigting- en beheervoordeel om na handrat te skuif as daar vining en rats beweeg moet word.
Padbeheer is absoluut. Nie net danksy die lae aerodinamiese profiel nie, maar ook omdat die Huracàn heeltyd in permanente vierwiel-aandrywing is. Dit is nie net blitsig nie, maar klou ook.
Die Huracàn het ook ‘n uiters aanvaar-bare gemiddelde brandstofverbruik van 12,5l/100km. Nie dat ‘n Lamborghini-eienaar bekommerd oor die brandstofprys behoort te wees nie, maar omdat ‘n mens nie te veel van ‘n koolstofvoetspoor wil nalaat nie.
Kortom; die motor is ‘n uiters kragtige, vinnige, padvaste supersportmotor, maar die belangrikste is dat dit slim en aangenaam is.



