Land Rover-mense weer saam vir 2015
Alle Land Rover-geesdriftiges in die Laeveld word genooi om op Sondag 18 Januarie deel te neem aan ‘n bergrit en gesellige kuier om die braaivleisvuur by Christmas Pools buite Sabie.

Dis die eerste byeenkoms van die Laeveld Land Rover Klub vir 2015. Die lede met gaste wil by die geleentheid ‘n bietjie besin oor planne vir die jaar en oor voorstelle gesels vir die volgende uitritte en byeenkomste.
Die groep kom reeds om 07:30 by Crossing in Mbombela byeen. Die roete na Sabie volg die R36 uit die stad en swenk dan weg by Rosehaugh om verby Rhenosterhoek oor die berge te kom. Daarna word die bolope van die Sabierivier tot onder in die Sabievallei gevolg. Dis ‘n baie aanskoulike roete. Die pad is goed en enige Land Rover kan met gemak deelneem.
Bring braaigoed en iets om te drink. Daar is gewoonlik hout, maar dit is raadsaam om bietjie houtskool byderhand te hou. Die geriewe by Christmas Pools is die dag uitsluitlik tot die beskikking van die klub gestel.
Die koste is R30 per voertuig. Besprekings is nie nodig nie. Navrae: Marius Bakkes by 082-852-7289.
