Steed bied steeds baie goeie waarde vir geld

Sedert die Chinese vervaardiger, GWM se toetrede enkele jare gelede tot die Suid-Afrikaanse motormark, is menige skeptiese motorentoesias al aangenaam verras. In minder as 10 jaar kon die GWM-bakkies in ‘n strawwe ekonomiese en hoogs mededingende bakkiemark nie net oorleef nie, maar ook markaandeel by gerekende vervaardigers afneem. Die bakkies het ook ‘n reputasie as voertuie wat goeie waarde vir geld bied, opgebou.

Kort ná die plaaslike bekendstelling van GWM se nuwe vlagskip Steed 6 dubbelkajuitbakkies in Desember 2014, het ek ‘n SX-weergawe ontvang om vir ‘n week te toetsbestuur. Die SX is die goedkoopste model in die Steed 6-reeks met die luukser Xscape wat standaardtoerusting in bakkies na nuwe hoogtes voer.

Ek het meer as 2 000 kilometer met die Steed 6 afgelê, wat bergpasse, slegte grondpaaie en relatief goeie teerpaaie in ‘n goeie mengsel van dorps- en ooppadryery ingesluit het. Ek kon uiteindelik ‘n gemiddelde brandstofverbruik van 9,4 liter per 100 kilometer behaal, wat glad nie sleg is as my bestuurstyl (het maar ‘n swaar regtervoet) en die feit dat die voertuig by ontvangs nog net 1 600 kilometer afgelê het, in ag geneem word.

Die kragtiger 2.0 VGT turboaangejaagde viersilinder-dieselenjin lewer nou 105kW en 305Nm wringkrag. Aandrywing na die agterwiele is deur ‘n heerlike ses-spoedratkas. ‘n Eaton-ewenaarslot is standaard. Die ritgehalte van die Steed 6 het my aangenaam verras, selfs op die slegte grondpaaie, en het gunstig vergelyk met een van SA se topverkoper-dubbelkajuitbakkies wat ek net die week tevore onder hande gehad het.

Die Steed 6 loop standaard op 16-duim wiele wat ook bydra tot ‘n sagter rit. Die Steed 6 dubbelkajuit is 5 345 millimeter lank met ‘n wielbasis wat 3 200 millimeter meet. Die gevolg is ‘n lekker ruim kajuit met genoeg beenruimte, veral vir die agterste passassiers.

Die kajuit lyk en voel goed met goeie materiale en afwerking, terwyl die sitplekke gerieflik sit en genoeg rugsteun bied. Die SX, soos getoets, bied heelwat standaardtoerusting wat ondermeer klimaatbeheer vir die lugversorging, radio/CD klankstel met USB-koppeling, asook Bluetooth-koppeling vir selfone insluit. Klank- en Bluetooth-skakelaars is ook op die stuurwiel aangebring.

Die Steed 6 2,0 VGT SX 4×2 kos R294 900 en bied ‘n vyf-jaar/100 000-kilometerwaarborg en twee jaar/24-uur- padbystanddiens. Die Die Steed 6 modelreeks word later vanjaar uitgebrei met 4×4 modelle.

Vergeleke met die meer gerekende dubbelkajuitbakkies van Ford, VW, GM en Toyota, is die Steed 6 egter steeds ‘n klein kop agter, hoewel die gaping al heelwat kleiner is as met die eerste modelle. Slegs tyd sal leer of die Steed 6 kan byhou met betroubaarheid en duursaamheid.

Die vraag vir my is nie of die Steed 6 beter is as sy meer gerekende mededingers nie, want kortom, die antwoord is nee. Die vraag is of die mededingers soveel beter is as wat hul (soms) enorme pryspremies suggereer?

Daarop is my antwoord, nee! Met ‘n lang lys standaardtoerusting wat jou nog ‘n hele paar rand ekstra by die meer gerekende vervaardigers uit die sak sal jaag, bied die Steed 6 ongeëwenaarde waarde vir geld.

Ek verstaan nou hoekom die Steed 6 aangewys is Bakkie & Truck se 2015 bakkie van die jaar! GWM het hier ‘n wenner beet.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button