Nederlaag kry haar nie onder
Die Here het vir haar krag gegee om dinge te doen waarvoor sy altyd te bang was.

MBOMBELA – Teleurstelling kry haar nie onder nie. Die plaaslike musikant, Christelle Burger, wat onlangs aan kykNet se Skryf ‘n Treffer-kompetisie deelgeneem het, is terug in die Laeveld na ‘n opwindende ervaring in die groot stad.
Daar was ongeveer 1 576 liedjies regoor die land ingestuur en Burger s’n was deel van 150 ander hoopvolle musikante se liedjies wat in Johannesburg se teater voor bekende beoordelaars opgevoer is. Ongelukkig het sy nie na die top-24 deurgedring nie, maar sy bly positief en sal dié ervaring vir niks verruil nie. Sy het groot name soos Joe Niemand, Loyiso Banda en Pierre Greef van Die Heuwels Fantasties ontmoet.
Om haar liedjies voor dié beoordelaars te kon sing, was vir haar ‘n groot eer en sy kyk op na elkeen van hulle. “Ek was nogal senuweeagtig, maar dit was amazing om die vrede van die Here te ervaar die oomblik toe ek op die verhoog staan. Na my eerste liedjie, was ek net met vreugde en opwinding gevul. Dit was so ‘n lekker ervaring.”
Burger meen ook dat die beoordelaars se terugvoer baie insiggewend was en sy is baie tevrede daarmee. Hulle hou van haar liedjies en dink dit betrek mense by die stories wat sy deur haar musiek vertel.
Sy sou nooit kon raai dat sy so baie uit die proses sou leer nie. Sy glo daar is ‘n mark vir liedjieskrywers in die land, en dat dit ‘n wonderlike inisiatief van kykNet is om jong musikante met die basiese vaardighede toe te rus wat hulle sal nodig hê om te begin. “Hulle het selfs vir elke inskrywing wat jy ingestuur het ‘n rubriek teruggestuur waar hulle terugvoer in die verskeie kategoriëe gee. Dit was wonderlik, want dit dien nou as maatstaf van waar jy as liedjeskrywer trek, en dan kan jy ook sien waaraan jy kan werk.”
Die Here het vir haar krag gegee om dinge te doen waarvoor sy altyd te bang was.
“Mens vrees soms die menings van ander en los dan eerder wat Hy vir jou gee om te doen, want mense se opinies is vir jou te belangrik, maar dan kom die Vader en laat jou besef dat Hy jou geskep het met ‘n doel, en die droom wat Hy in jou hart gesit het, kan net Hy volbring, sou jy bereid wees om die eerste stap te vat.”
Elke tree van die reis het Burger stap vir stap gevat met die wete dat ongeag wat in die einde gebeur, Hy in beheer bly. Haar man, Jordeau, vriend, Christaan en vriendin Jo-ann Fisher was haar grootste ondersteuners in die tyd.
Oor vyf jaar wil sy nêrens anders wees as waar die Vader haar wil hê nie.
S
y glo dat sy steeds in die musiekbedryf as liedjieskrywer en aanbiddingsleier van haar kerk sal wees.
Vir nou fokus sy op haar skryfwerk. Aan ander jong musikante gee sy die boodskap dat mens net een keer lewe, en dat jy nooit sal weet as jy nie probeer nie.
Dit is nie altyd maklik om te begin nie, maar as jy weet dat dit die passie is wat die Vader vir jou gegee het, sal Hy vir
jou die moed gee om dit stap vir stap aan te pak.
Lees vorige berig hier
