Land Rovermanne ry vergete bergpaaie van die Platorand
Die Laeveldse Land Rover-eienaars het onlangs die bos- en bergpaaie teen die Oostelike platorand by Kaapsehoop verken.

Vroeër was dit oorwegend die liefhebbers van die beproefde Defenders wat aan sulke uitstappies deelgeneem het, maar deesdae word hier die gewilde uitritte meer en meer oorheers deur Land Rover Discovery 3 en 4’s.
Soos altyd het ‘n hele paar van die geesdriftiges ook met ouer Discovery 2’s by hierdie uitritte opgedaag. Teen die prys wat ‘n goeie Disco 2 deesdae op die tweedehandse motormark verhandel is dit uitstekende waarde vir geld vir ‘n veelsydige veldvoertuig met hope gerief.
Die groep kom deesdae by die BP garage by Sonpark in Nelspruit byeen vanwaar daar in konvooi na die bestemming vetrek word. Die manne maak beurte om een keer per maand ‘n intereresante veldroete te beplan en toestemming te reël, of ‘n viertrekbaan te bespreek. ‘n Voordeel van die groep is dat die roetes dikwels deur ‘n gebied lei wat nie vir elke man toeganklik is nie.
Hierdie keer het die stofpad by Kaapsehoop begin. Die konvooi van is voertuie is eers deur die plantasies verby die verlate bosbougemeenskap van Coetzeestroom. Coetzeestroom is die 1930s as werkskeppingsprojek vir verarmde blankes gestig. Latere bekendes in die media en vermaakwêreld wat hier groot geword het is die regisseur en akteur Paul Eilers, koerantredakteur en diplomaat Carl Nofke en motorskrywer Fred Schnetler. Al wat vandag hier te sien is, is die ou skooltjie (nou ‘n bosverblyf vir stappers) en die sementvloere waar die plankhuisies en gemeenskaplike wasplekke eers gestaan het. Tussen die bome het daar ‘n troppie van die bekende wildeperde van Kaapsehoop gewei.
Van hier is die netjiese konvooi met ‘n bosboupad tot onder in die Dekaapvallei en toe weer met die koetspad wat oudag vanaf Barberton geloop het, weer bergop. Die pad kronkel duiselendwekkend die hoogtes in tot onder die laaste boonste kranse verby die plek waar die Noordkaaprivier tussen die bergvarings ontspring. Die laaste skerp draai bo uit is letterlik soos ‘n mik van ‘n geweer deur die boonste klipbastion gekap waardeur mens en voertuig skielik brullend uit die bergskadu tot bo-op die sonnige platorand beur.
Na ‘n kort besoek aan die nabygeleë en omstrede Adams se Kalender het die groep by Neels en Ria Botma se gesellige Kaapsehoop gastehuis afgestaan vir ‘n genotvalle braai.
Die volgende uitrit van die Laeveld Land Rover Eienaarsgroep is weer op Sondag 19 April wanneer die nuutvoltooide Kromlip viertrekroete by Lydenburg aangedurf word. Almal is welkom om mee te doen. As jy nie reeds die trotse eienaar van ‘n Landie is nie, sal jy sekerlik iemand ken met een. Vra een van hulle om jou te bring. Meer inlligting is beskikbaar by Neels Bothma by 082-414- 6970 of Reynard Cronje by 082-601-9380.
