Citybug maak jou reis steeds ’n plesier
Elke vakansieseisoen word daar beklemtoon dat die reis deel van die bestemming gemaak moet word. Maar jou keel trek toe wanneer jy jou gemaksone vir onbekende uitdagings wil verlaat - iets wat jy met ‘n ondernemersgees en die opwinding van die uitdaging moet trotseer.

Vir Jacques en Hannelie Esterhuizen van Citybug het dié tyd op 27 Desember 1994 aangebreek. Hulle het die bul by die horings gepak en die “veilige hawe” van ‘n stabiele loopbaan verlaat om mense in Mbombela (toe nog Nelspruit) rond te karwei. In die daaropvolgende jare het hulle hul bel-en-bestel stokperdjie tot ‘n gevestigde pendeldiens en een van die bekendste handelsmerke in die Laeveld opgebou. Talle van die stad se sakelui sal met heimwee kan onthou hoe hulle ouers destyds die R5 per rit betaal het om familie en kinders van een punt na ‘n ander in Citybug se driewiele te laat aanry.
In die eerste driewielvoertuie (waarvan daar net agt in Suid-Afrika gemaak was en uiteindelik vyf in Nelspruit gependel het) was Jacques self die trotse bestuurder, soms tot laat in die aand wanneer hy mense van die rolprente of kuierplekke veilig teruggeneem het huis toe. Die driewiele is ‘n paar jaar later deur ‘n New York-tipe cabby vervang, maar Jacques vertel gou hoe hulle geleer het om met die tye aan te pas. Die “vangwa”-kanariegeel stadstaxi’s sou nie hier in Suid-Afrika (en veral in die 1990s) deug nie.
Intussen het die vraag na ‘n pendeldiens tussen die Witwatersrand en die Laeveld begin toenoem en die eerste bussies het op gereelde tye vanuit Mbombela begin vertrek. Vandag is daar meer as 6 000 passasiers per maand wat met dieselfde glimlag by ‘n bestemming aankom as waarmee hulle in die Citybug vertrek het. Jacques het met ‘n sersant-majooragtergrond en ‘n strategie gebaseer op die vyf P’s, proper planning prevents poor performance, die stuurstang stewig vasgehou.
Met ‘n totaal van 172 op- en aflaaipunte en digby 170 000 oproepe per maand, is daar ook ‘n kantoor in Bloemfontein geopen wat gereeld tussen Gauteng en die Vrystaat mense betyds tuis bring. Die gewilde rit na Durban word deur die natuurskoon van Mpumalanga-dorpe soos Ermelo, Volksrust oor Ladysmith twee keer per week verbind.
In 2002 het Citybug die klein-besigheid-van-die-jaartoekening gewen, dieselfde jaar waarin die aanlynwebwerf bekend gestel is. Een van Citybug se topvoertuigbestuurders het onlangs selfs vir Toyota Suid-Afrika verstom toe die bussie waarmee hy ry op 152 000 kilometer steeds geen remskoene nodig gehad het nie.
Dit is maar ‘n paar van die talle hoogtepunte en mylpale wat Citybug bereik het. Die kanse is goed dat ek en jy in die volgende 20 jaar ook met heimwee gaan terugdink aan die dag toe ons kinders in ‘n Citybug van punt A na punt B gereis het.
