Pumas honger vir sukses
Die Steval Pumas het aan die begin van die seisoen 'n voorgevoel gehad dat hulle die GWK Griekwas iewers in die laaste paar rondes van die Vodacombeker gaan ontmoet.

So sê die afrigter, MJ Mentz voor sy span se kwarteindstryd in Kimberley. Die voormalige Griekwa-baljagter Marnus Schoeman is as die reserwehaker gekies én nog ‘n oudspeler van die Poubloues, Simon Westraadt, vir die reserwe-voorry.
“Ons het ‘n hele paar spelers wat die veld goed ken en weet hulle is honger vir rugby.”
Alhoewel die Griekwas die afgelope naweek naelskraap teen Toyota Vrystaat XV gewen het, sê Mentz dat die tuisspan tans nie hul beste rugby speel nie. “Met meeste van hulle wedstryde het hulle in die doodsnikke die wen deurgehak. Ons het vorige foute uitgeskakel en dit is ons resep vir Vrydagaand – die span wat die minste foute begaan, glo ek gaan die wenners wees.”
Jerome Pretorius draf in sy 50ste wedstryd vir die Pumas uit en begin in die plek van Wilmaure Louw op senter. JC Roos met sy skopskoen sal ‘n deurslaggewende rol speel. Die ander verandering is die insluiting van Marius Coetzer saam met Rudi Mathee as slotkombinasie.
Eduan van der Walt sal as impak-speler op die plaasvervangersbank wees, nadat hy vir gordelroos behandel is.
