Ordonnans en stenograaf word die leviete in die hof voorgelees
"Die waarheid moet uit - onder eed," het die landdros beveel toe die twee laatkommers hul verskyning maak.

Die vereiste van stiptelikheid is behoorlik by die Nelspruit Distrikshof se personeel ingeprent toe landdros me. Faith Mogale Maandag besluit het dat laatkommery nie geduld sal word nie.
Sy het besluit om ‘n hofordonnans en ‘n stenograaf onder eed te laat verduidelik waarom hulle laat was toe dié gedrag van hulle verlede Dinsdag se hofprosedures opgehou het.
Staatsaanklaer mnr. Nicholas Nobela het glo teenstand van ‘n beskuldigde gekry wat nie in die hof wou verskyn nie. Toe Nobela vir die man vra waarom hy nie dink dat hy in die beskuldigdebank hoef te staan nie, het hy gesê dat hy vroeër daardie oggend by die hof was, maar dat die stenograaf en die hofordonnanse nie op hul poste was nie. Nobela het hierdie versuim onder Mogale se aandag gebring en sy het haar voet neergesit.
“Die waarheid moet uit – onder eed,” het sy beveel. Dit was eerste die hofordonnans se beurt. Hy is ingesweer en het plegtig beloof om die waarheid, slegs die waarheid en die waarheid in sy volle omvang te vertel. Volgens die ordonnans was hy soggens om 09:00 op sy pos. “Toe ek hier aankom het die hof nog nie begin nie. Die staatsaanklaer was doenig met ‘n klomp mense. Ek was dus betyds,” het hy geredeneer. Hy het bevestig dat hy versuim het om teen 13:45 op sy pos te wees, sodat die hof om 14:00 kon hervat.
Mogale het hom oor die vingers getik en die stenograaf nader geroep. Sy is ingesweer en het plegtig belowe dat sy stiptelik om 09:00 en 14:00 voor haar stenograafmasjien gereed vir aksie gesit het. Mogale het aangevoer dat dit nie moontlik is nie, omdat sy self op daardie tye in die hof was. “Bongi, jy was verseker nie hier nie,” het sy laat hoor. “As een van julle nou weer laat kom, volg ‘n skriftelike waarskuwing voordat julle uit die hof verbied word.” Hierna was beide weer op hul poste en hofverrigtinge kon voortgaan. Hofamptenare en Mogale wou nie die identiteit van die ordonnans of Bongi bevestig nie.
