Opvolg: Wedderspoon woordvoerder staan Laevelder te woord ná diefstal en DBV klagtes
Elaine Wedderspoon is Maandag gearresteer en het die week in die Nelspruit Landdroshof verskyn. Daar is ook 'n klag teen haar gelê by die DBV.
MBOMBELA – Die veroordeelde dief Elaine Wedderspoon het die afgelope week in die plaaslike polisiestasie se selle geslaap. Sy is Maandag gearresteer nadat die polisie vir twee maande gesloer het om die lasbrief vir haar arrestasie toe te pas. Elaine beweer dat die diefstaldispuut wat die uitreiking van die lasbrief voorafgegaan het, reeds gemedieer is. ‘n Gesinsverteenwoordiger plaas die klag wat teen haar gelê is by die Dierebeskermingsvereniging in dispuut.
Sy is Maandagoggend gearresteer na die lasbrief reeds op 10 April uitgereik is. Landdros mnr. De Wet Oosthuizen het hierdie lasbrief uitgereik omdat Wedderspoon nie by die hof opgedaag het toe sy in April op ‘n klag van diefstal moes verskyn het nie. Ene me. H Bosch van Witrivier het haar aangekla nadat Wedderspoon glo ‘n kragopwekker by haar gesteel het.
Laevelder het reeds in April berig dat hierdie lasbrief vir Wedderspoon se arrestasie uitgereik is.
‘n Gesinswoordvoerder het Laevelder Woensdag in die Nelspruit Landdroshof te woord gestaan. “Oor die aanklagte teen Elaine gaan ek my nie uitlaat nie. Sy kan haar kant van die diefstalsaak in die hof stel, maar daar is ‘n ander klag teen haar gelê waaroor ons iets móét sê. Dit is die klag van dieremishandeling. Daaraan is sy onskuldig.”
Laevelder het onlangs berig dat hierdie klag by die Dierebeskermingsvereniging teen Wedderspoon gelê is. ‘n Afskrif van die klag is Maandag by hulle huis afgelewer wat beweer dat ‘n spesifieke boelterriër, Rocky, ondervoed is. Volgens ‘n bron wat die Wedderspoons se woning tydens die arrestasie besoek het, skort daar niks met die diere op hulle erf nie. Laevelder is van ‘n foto van die hond voorsien.
Wedderspoon het ná haar hofverskyning haar kant van die diefstalsaak en die lasbrief wat gelei het tot haar arrestasie gestel. “Ek het ‘n vorige berig van die lasbrief teen my in die koerant gesien, maar volgens my het my prokureur, mnr. Dumisa Gama, en me. Bosch die saak gemedieer.”
Sy het verduidelik dat sy haar prokureur probeer bel het om te bevestig of sy by die hof moet wees of nie, maar dat hy nooit op haar navraag gereageer het nie.
Staatsaanklaer mnr. Oupa Ndlovu was skepties oor Wedderspoon se weergawe en het versoek dat Gama geroep word om sy weergawe van gebeure aan die hof voor te lê. Hy het teen druktyd nog nie in die hof verskyn nie.
Wedderspoon het aansoek gedoen om op borg vrygelaat te word. Hierdie aansoek gaan Maandag voort.
Lees ook:
Polisie sukkel twee maande om Elaine Wedderspoon vas te trek
