Die lewe is net ‘n kunstefees totdat die gordyne weer sak
Bekroonde dramaturg en regisseur, Christiaan Olwagen, span wrang humor op 'n meesterlike wyse in met Feeskatte, 'n produksie wat beslis in die siele van die Innibos-gehoor sal gaan sit.

Olwagen stel mens bekend aan die wêreld van drie vriendinne, die sogenaamde feeskatte. Van KKNK tot die Vryfees en Aardklop tot Innibos – jy sal hulle by elke kunstefees aantref.
Hulle snuffel deur die stalletjies, lê weg aan die lekker kos, en woon elke teater- en musiekproduksie by.
Hierdie drie oudkammies van Kovsies, Jeanette (Joanie Combrink), Sunel (Susanne Beyers) en Elise (Elsabé Daneel), lek die room van die feeste op en deel dit dan met hul aanhangers op Facebook.
Dis keer op keer ‘n prettige uitstappie wat met lawwe, boere-Ascot-veredosse gevier word, en dis belangrik dat al hul glansryke foto’s die kuberruimte ingestuur word vir die ganse wêreld om te sien.
Vir die gehoor is dit ooglopend dat hierdie kloustrofobiese fantasiewêreld van helder ligte, poeierkwasse en akteurs ‘n welkome ontsnapping van die werklikheid is. Die feeskatfasade word humoristies met ‘n skelm snuffelsessie in Anna-Mart van der Merwe se kleedkamer uitgebeeld, maar in ‘n motoriese moment klap die deur toe, die handvatsel breek af, en die kietsies is vas.
Agter ‘n geslote deur kan ‘n mens net vir só lank voorgee, en dit is interessant hoe drie uiteenlopende persoonlikhede die lewe op verskillende maniere benader.
Die oortuigende vertolkings deur Combrink, Beyers en Daneel gee ‘n mens ‘n kykie na iets van jouself in elke karakter.
Sunel is ‘n bombastiese grapjas en sê ‘n ding soos sy hom sien. Na etlike glase wyn ontbloot sy egter dat haar harde eksterieur as ‘t ware ‘n beskermingsmeganisme is. Sy is in ‘n wapenrusting van kras grappe en sêgoed gepantser, en dit is maar haar panasee teen ‘n geskiedenis van fisiese en emosionele aftakeling.
Sunel se teenpool is Elise, die ewige aktrise. Sy is die perfekte eggenoot en ma in die produksie van haar eie lewe. Sy vermy die lelike en vind haar vertroosting in soetsappige mantras en bemoedigende Bybelversies. Sy loop maar te graag uit ‘n teater as die taalgebruik op die verhoog nie met haar puriteinse waardes strook nie.
In die beknopte kleedkamer leer sy egter dat ‘n mens nie die pyn in jou eie lewe presies só kan ontwyk nie.
Meeste vriendekringe het so ‘n vegter en vlugteling – en so herken ons ook iemand (of onsself) as ‘n “Jeanette”. Sy is die een wat alles in die lewe vrees. Haar pynlike ervarings met die dood het haar van haar lus vir die lewe ontneem. Haar teenwoordigheid van gees berus op ‘n handvol pille en haar sielkundige is haar ewige kruk.
Soos Jeanette, wil baie hul spreekwoordelike pille los om net weer te kan vóél – selfs al is dit net vir ‘n oomblik…
Dan sak die gordyn en ons gewone feeskatte spat uitmekaar uit.
Ons, nes die karakters, keer terug na ‘n glas wyn, word weer mevrou prokureur, en sluk maar nog ‘n pilletjie. Die lewe gaan immers nog voort na ‘n kunstefees…











