Vermiste meisie skuil al die tyd by kêrel
Hy het oor die uitval tussen hom en sy tienerdogter uitgebrei. "Enige pa sou kwaad geraak het as 'n 19-jarige seun by sy 15-jarige dogter kuier sonder enige toesig."
MBOMBELA – “Gelukkig is sy nou veilig en terug in my arms,” het ‘n verligte pa gesê nadat hy sy dogter by haar kêrel se huis gevind het. Sy het hier vir naastenby
24 uur weggekruip terwyl haar ouers die ergste gevrees het.
Sosiale netwerke het omtrent gegons nadat Nikita Bloem (15) Dinsdag as vermis aangemeld is. Haar foto is op talle blaaie gedeel en die stad se inwoners het almal saamgespan om haar te vind.
Haar pa, mnr. Barend Bloem en haar ma, me. Amanda Rudman, het vermoed dat sy by haar kêrel, mnr. Rico Schutte (19), weggekruip het nadat sy en haar pa ‘n uitval gehad het.
“Ons was vier keer by Rico se huis, maar hy het deurentyd ontken dat hy haar gesien het.” Bloem het deur die loop van die dag met vriendinne van Nikita gesels en gehoor dat sy ‘n buskaartjie gekoop het om na haar ma in Port Elizabeth te gaan.
Ons was vier keer by Rico se huis, maar hy het deurentyd ontken dat hy haar gesien het.
Die inskrywings op Facebook het selfs daar reaksie ontlok en talle mense het ingestem om haar te soek. Die vermoede dat Nikita by Rico se huis was, het egter nie verdwyn nie.
“Ek en een van my kollegas het buite die seun se huis gewag en skaars 20 minute later, het ons beweging in die huis opgemerk.”
“Ons het toe die polisie gebel en hulle het aan die huis se deur geklop. Ons het geweet hulle sou nie die polisie kon weier nie. Sowaar het dié twee uitgestap gekom. Sy was toe die hele tyd by sy huis.”
Bloem, sy dogter en haar kêrel het na Mbombela se polisiestasie gegaan waar albei die jonges met kinderwelsyn moes gesels. “Omdat sy uit vrye wil na hom toe is, kon daar geen saak teen hom oopgemaak word nie,” het Bloem gesê.
Hy het oor die uitval tussen hom en sy tienerdogter uitgebrei.
“Rico was by my huis sonder my toestemming en die twee het op die bed gelê en vry,” het hy gesê.
“Enige pa sou kwaad geraak het as ‘n 19-jarige seun by sy 15-jarige dogter kuier sonder enige toesig.”
Die eerste aand nadat Nikita terug by die huis was, het sy en haar pa ‘n oop gesprek gehad om hul probleme op te los. “Ek is net bly sy is terug en nou kan ons aan ons verhouding werk.”
Hier is die eerste berigte oor Nikita se vermeende verdwyning:
Missing girl found at boyfriend’s house
