Rugbykoors neem Laeveld op horings

Twee plaaslike spanne speel Saterdag in die eindstryd van die Mpumalanga Rugbyklub-liga.

Dit nadat Nelspruit Rugbyklub verlede naweek op hul tuisveld maklik met Sasol 34-15 afgereken het. Witrivier het ook hul plek in die eindstryd bespreek nadat hulle in Witbank Ferros net-net met 15-13 geklop het.

Dit sal die eerste keer in die geskiedenis van die toernooi wees dat twee Laeveld-spanne gaan meeding om later vanjaar vir die Gemeenskapsbeker te kwalifiseer. Verlede jaar se eindstryd is deur die einste Ferros gewen nadat hulle vir Sasol ore aangesit het. Durbell het verlede jaar die kampioentitel verower nadat hulle Rustenburg Impala in ‘n naelbyter met 31-30 geklop het.

Klubrugby

Nelspruit se Colin van Staden, Darren Berry en Damian Janse van Rensburg het drieë teen Sasol aangeteken, met Van Staden wat twee van die drie verdoel het en vier strafskoppe deur die pale gejaag het. André Visser het verder sout in die besoekers se wonde gevryf deur ‘n skepskop deur die pale te klits.

Die kaptein van Witrivier, Doppies le Roux sê dat dit ‘n groot uitdaging was om Ferros op hul tuisveld te klop. “Om dit te kon doen, is iets wat ons vir drie jaar nie kon regkry nie. Dit was ‘n goeie fisiese wedstryd met ‘n hele paar harde duikslae reg tot die einde. Ons manne het groot veggees en intensiteit op die dag gewys. Ons skrums en lynstane het goed gewerk en ons agterlyn was veral op die verdediging ongelooflik.”

Hy noem verder dat die feit dat dit ‘n eerste vir die Laeveld is, is ‘n weerspieëling dat rugby hiér gesond is.

“Nelspruit het ‘n goed afgeronde span met fisiese voorspelers en ‘n vinnige agterlyn wat veral goed is met diep aanvalle uit hul eie halfgebied. Ons weet dit gaan weer ‘n lekker harde wedstryd wees waarna ons baie uitsien.”

Die wedstryd skop om 15:00 op Nelspruit Rugbyklub se velde af. Toegangsfooi beloop R10 per persoon en leerders kan gratis ingaan.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button