Vasbyters wys bestuursvernuf

Die brul van enjins en die reuk van diesel en koppelaarplate het tydens die jaarlikse Wildevy 4x4-gesinsdag Saterdag die lug in die Spekboomriviervallei gevul

Toeskouers en deelnemers vanoor die hele ou Transvaal en verder, was nie vanjaar bang vir modder en stof tydens dié geleentheid op die De Jagers se plaas nie. Die dag het vroeg begin en teen 07:00 het die baanvaardigheidskompetisie vir 4×4-voertuie afgeskop.

Die baan het uit 13 punte bestaan waar verskeie 4×4-vaardighede getoets is en teen 16:00 het die laaste show-stopper-uitdaging plaasgevind waar bestuurders die geleentheid gekry het om hul vernuf in die watergat te wys.

Corjan Mulder en Eugene Smit was die algehele wenners van die Wildevy 4×4. In die 4×4-manskategorie het Frik Oosthuizen en Nick Oelofse met die eerste plek weggestap met Dewald Snyman en Pieter van den Berg in tweede plek. Die beste 4×4-vrouespan was Jenny Oosthuizen en Lieze Heystek terwyl Leon en Sanet Wirths met die 4X4-gemengde spanprys weggestap het.

Toeskouers is bederf deur uitstallers wat lekker kos, vermaak, lekkernye, handgemaakte ware en tuisgebak verkoop het. Besighede het die geleentheid gekry om hul dienste en produkte aan die publiek bekend te stel en Samancor Eastern Chrome Mines (ECM) het die prys vir die beste puntborg en beste tema gewen.

Teen 17:00 het die 4×4-bane gesluit en was die vure reeds aan die knetter onder die potjies vir die potjiekompetisie. Precrete is uit agt deelnemers as die algehele potjiekoswenner aangewys. Die 2015 Wildevy-gesinsdag is afgesluit met vertonings deur DJ Robbie Rossouw, Charné Grabie, Henri Alant en Hans Drommedaaris en ‘n lekker opskop daarby.

“Eerstens wil ons die hemelse Vader al die eer gee dat Hy die Wildevydag so oorweldig geseën het. Sonder sy hulp is ons tot niks in staat nie. Ons wil ook graag vir elke deelnemer, toeskouer, uitstaller, punt- en hempborg bedank vir hul bydrae en laastens vir elke Wildevy-lid wat gehelp het met die bestuur van die dag. Julle moeite was nie ongesiens nie,” het Willem Montgomery, een van die Wildevy-organiseerders gesê. Daar was meer as 50 uitstallers by vanjaar se dag en die Wildevy-manne reken dat sowat 6 000 toeskouers die geleentheid bygewoon het.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button