Ouers se wense word vervul toe drieling hul opwagting maak
Henno en Lizelle Radley is nou die trotse ouers van ses - vyf dogters en 'n seun.

MALALANE – Die gewilde liedjie “Kinders by Dosyne” wat luidkeels by talle bruilofte gesing word, is byna vir ‘n bekende egpaar in die dorp bewaarheid, toe drie pienkvoete op 5 Augustus hulle verskyning gemaak het.
Henno en Lizelle Radley is nou die trotse ouers van ses – vyf dogters en ‘n seun.
Lana, Henno jr. en Bella is op 36 weke in Mediclinic Nelspruit gebore en alhoewel Henno jr. weens infeksie in sy longe vir ‘n paar dae in die hoësorgeenheid opgeneem is, sê pa Henno dié drietjies is nou perdfris en dolgelukkig tussen sussies Nienke (5), Nikita (3) en Katrien (1).
Henno erken egter dat dit ‘n groot verrassing was, veral vir sy vrou, toe hulle op ses weke uitvind dit is ‘n drieling. “Lizelle het vir die dokter gesê hy maak seker ‘n grap en het histeries begin giggel.” Henno was egter oorstelp van vreugde. “Ek het van die begin af ‘n gevoel gehad, want ek het haar gespot en gesê dit gaan ‘n tweeling wees,”vertel hy en bieg dat hy nog altyd ses kinders wou gehad het. “Ons is self ses kinders, maar Lizelle het gesê die vierde swangerskap is die laaste. Min het ons geweet dat dié twee wense wel bewaarheid sou word en dat ons albei ons sin sou kry – en boonop met ‘n seuntjie daarby.”
Klein Henno is die enigste doring tussen die rose en is ook die trotse naamgenoot van sy pa en oupa Henning.
“Ons het maar altyd gehoop vir ‘n seuntjie,” erken hy, maar voeg dan beskeie by dat hul gesondheid – ongeag die geslag – van die begin af hoofprioriteit was. “Dis mos maar enige pa se droom om ‘n seuntjie te hê, maar ons het van die begin af gesê, maak nie saak wat die geslag is nie, solank hulle net gesond is.”
Volgens Henno was dit ‘n natuurlike swangerskap en daar was ook geen komplikasies met die geboorte nie. “Ons het van die begin af rustigheid gehad en geweet alles sal gebeur soos dit moet.
“Onder omstandighede is ons ongelooflik geseënd, ook vir die feit dat dit ‘n drieling- swangerskap was en dat daar geen ernstige komplikasies was nie.
Dit het ons net weereens herinner aan hoe groot God se genade is en watse ongelooflike seëning dit is, waarvoor ons net opreg dankbaar voor kan wees.
“Daar is nou 21 kleinkinders in die Radley-familie, waarvan een in ons harte is,” het hy trots gesê.
Die gesin bedank graag dr. Steyn, die ginekoloog, dr. Taljaard, die pediater en dr. Immerzeel, die narkotiseur, asook hul assistente in teater en die personeel in die kraamsaal en hoësorgeenheid.
