Kostedoeltreffend en uiters produktief

FAW SA is vanjaar reeds 21 jaar in Suid-Afrika bedrywig en behoort nou reeds ‘n bekende handelsmerk op SA se paaie te wees. In Julie 2014 is hul moderne produksie- en vervaardigingsaanleg in die Ooskaap by Coega ingewy en in Januarie vanjaar is ook hul nuwe vragmotor- bakboufabriek amptelik daar geopen.

Die Chinese FAW Groep Korporasie wat die grootste aandeelhouding in FAW SA hou, is China se grootste en oudste voertuigvervaardiger en het sedert sy ontstaan reeds meer as 30 miljoen voertuie wêreldwyd gelewer. FAW SA het vanjaar begin om plaaslik vervaardigde vragmotors na handelaars in Afrika uit te voer.

Plaaslik is die kompetisie in die medium gewigsegment straf, maar FAW glo in die Chinese spreekwoord wat sê dat in elke krisis is daar geleenthede.
Die nuwe vyf-tonner, genoem die FAW 8.140FL, is die resultaat van FAW SA se pogings om die Chinese model nuut te ontwerp en spesifiek te definieer ten einde die plaaslike koper se behoeftes te dien. Gevolglik is daar spesiale aandag gegee om kostedoeltreffendheid met die bes moontlike vragdravermoë en produktiwiteit te kombineer. Die beste moontlike komponente is by verskillende markleiers plaaslik en internasionaal aangekoop.
Terwyl die kajuit, onderstel en aste van FAW China ingevoer word, is die jongste geslag Cummins ISF 3.8 liter enjin uit Amerika verkry terwyl die Duitse ratkas spesialiste ZF die ses-spoed 500 TO Ecolite ratkas verskaf.

Die FAW 8.140 FL kom standaard met ondermeer ABS, volledigeWabco dubbellyn lugremme, kragstuur enjin rem (exhaust brake) asook ‘n lug handrem. In die kajuit verseker die ontwerp uitstekende sigbaarheid vir die twee passasiers en bestuurder. Daar is ondermeer ‘n verstelbare stuur, verstelbare dak luguitlaat, trurat alarm, LED ligte agter en ‘n radio met MP3 en USB-fasiliteit. FAW SA glo dat ‘n voertuig se totale bedryfskoste ‘n uiters belangrike oorweging is by aankoop en het gevolglik die mees koste effektiewe ratkas en enjinkombinasie vir die FAW 8.140 FL gesoek ten einde duursaamheid, betroubaarheid en lae onderhoudskoste te verseker. Die Euro III Cummins ISF 3,8-liter kragbron is ‘n liggewig nuwe generasie waterverkoelde hoëdruk diesel enjin met turbo-aanjaging en ‘n tussenverkoeler.

Die reguit vier-silinder enjin bied uitsonderlike verrigting met lae geraasvlakke asook ‘n lae skadelike uitlaatgassyfer. Gevorderde modulêre ontwerp het die gevolg dat die enjin kleiner is, makliker toegang bied en slegs van een kant gediens kan word wat weer bedryfskoste laer dwing. Die kajuit-oor-enjin ontwerp kan 45° vorentoe kantel vir gemaklike toegang na die enjin. Maksimum-kraglewering is 105kW@2600r/min terwyl 450Nm@1200 – 2200r/min gelewer word.

Die FAW 8.140 FL is gebou op ‘n reguit leerraam-tipe onderstel wat met klinknaels eerder as boute by die laste geheg is. Voor word dubbele skokbrekers gebruik met bladvere agter. Die agterste as is vir ses ton gesertifiseer terwyl die voor-as drie-ton gewig kan hanteer.
Die vragmotor is 5,5 meter lank en onder 9 000kg GVM kan die trokkie steeds gemaklik teen 120kpu werk.

Voornemende kopers kan die FAW 8.140 FL by 36 verskillende handelaars in Suid Afrika, Nambië en Botswana bestel. Dit is beskikbaar met ‘n valkantbak, as ‘n toe vragwa, ‘n taut-liner of met ‘n geisoleerde bakwerk om droë goedere te vervoer. Dit kan egter ook bestel word met ‘n tipbak of met ‘n rollerplatform vir die vervoer van byvoorbeeld motors. Volgens FAW SA is dit die goedkoopste koste-per-ton vragmotor in sy marksegment tans beskikbaar in Suid-Afrika.

FAW kajuit

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button