Merc-nuweling beïndruk met sy veelsydigheid en werkverrigting

Mercedes SA se nuweling heet die GLE Coupé en ons het so pas die Suid-Afrikaanse bekendstelling daarvan bygewoon. Maar waar pas die GLE in Mercedes se uitgebreide modelreeks?

Kom ons begin by die begin, want die naam “GLE” is ook nuut en vreemd vir meeste. Die GLE is ‘n sportiewe SUV. ‘n Kombinasie van sportkoepee gemeng met die robuuste SUV-viertrekvermoëns via Mercedes se 4Matic permanente vierwielaandrywing.

Sportief omdat die daklyn rond en afwaarts soos ‘n koepee na agter swiep en jy binnekant net sitplek vir vier kry (weliswaar groot en lekker luukse sitplekke) met besondere paddinamika en verrigting vir so ‘n lywige wa. Die GLE kom toegerus met lekker kragtige enjins met verrigting wat menige sogenaamde “sportmotors” die loef sal afsteek. Tans kan die GLE ten beste vergelyk word met BMW se X6.

Mercedes fokus tans op vyf kern modelreekse in sy sedanmotorstal. Daar is die A, B, C, E en S-Klasse, elk beskikbaar met verskillende enjin opsies. In die SUV reeks wil hy graag dieselfde doen, maar het ter viering van sy legendariese “G”-klas besluit om al die modelle (uitgesonder die “G”) in die SUV stal met die letters “GL” te laat begin, om sodoende ook ‘n verwysing na die sedanreeks te maak. Gevolglik kry ons die GLA wat verwys na die A-klas, GLC (wat die X4 moet aanvat en is op pad na ons) wat weer dui op die C-klas, GLE met verwysing na die E-klas en die groot vlagskip “GL” wat binnekort verander na die GLS en uiteraard na die luukse S-klas topmodel in die sedanreeks verwys. Die hardebaard “Geländerwagen” oftewel “G” bly egter onveranderd. Die GLE vervang gevolglik die ou ML en die GLE Coupe is dan net die meer sportiewer weergawe. Daar is ook ‘n GLC Coupé op pad.

Dit is egter duidelik dat Merc hier na BMW se X6 mik met die ontwerpfilosofie wat duidelik ooreenkomste toon. Die vloeiende koepeedak wat na agter swiep. Fris uitgeboude wielboë wat oor reuse lae profiel wiele (standaard 21” op die 450 AMG met 22” vir die 6.3 AMG weergawe!) hurk en ‘n aggressiewe dominerende neus wat selfs ‘n kwaai Rottweiler sal intimideer. Voorlopig word drie modelle bekendgestel. Twee petrolweergawes en een dieselenjin.  Die GLE 350d Coupé 4MATIC bied ‘n V6 turbodiesel van 2987cc met 190kW se piek kraglewering en 620Nm wringkrag. Die 0-100kpu lopie neem slegs 7,0 sekondes terwyl Mercedes die amptelike brandstofverbruik as 7,1l/100km aangee. Die prys is R999,900-00*.

Die GLE 450 AMG Coupé 4MATIC kom toegerus met ‘n 2996cc Biturbo 24-klep V6 petroloond en lewer ‘n fris 270kW se piekkrag vanaf 5500-6000rpm. Wringkrag is 520Nm en beskikbaar tussen 1800- 4000rpm. Die 0-100kpu lopie neem ‘n indrukwekkende 5,7 sekondes, in aggenome die GLE Koepee se swaargewig lyf, met ‘n topspoed wat by 250kpu beperk word. Mercedes sê brandstofverbruik vir die 450AMG is 9,2L/100km in ‘n gekombineerde siklus. Die GLE C450 AMG Coupee 4-Matic verhandel teen R1,099,900-00*. Beide hierdie modelle dryf nou via Mercedes se nuwe 9G-tronic nege spoed outokas wat soomlose oorskakeling, gladder verrigting en beter brandstofverbruik tot gevolg het.

Mercedes SA het ook besluit om die verrigting model, die AMG GLE 63 S Coupé  plaaslik bekend te stel. Die 5,5l Biturbo V8 is al ‘n ou bekende in ander Mercedes AMG modelle en lewer 430kW se piekkrag met 760Nm wringkrag. Dit sorg vir ‘n verbysterende 0-100kpu lopie van slegs 4,2 sekondes! Topspoed is ook beperk tot 250kpu. Amptelike brandstofverbruik word aangegee as 11,9l/100km in ‘n gekombineerde siklus. Die AMG GLE 6.3S Coupe 4MATIC verkoop teen R1,859,900-00*.

Buite is die stilering sagter op die oog as byvoorbeeld BMW se X6 maar steeds aggressief met veral die groot breë wiele wat opval. Die agterligte op die GLE Coupe het duidelik trekke na die pragtige Mercedes S-Koepee. Die AMG 6.3 weergawe kom ook met groter en eiesoortige allooiwiele en ‘n unieke neusontwerp terwyl ‘n klein drukvlerk agter aangebring is.

Mercedes-Benz GLE Coupé (2014)

Binne tref die knus sportiewe kajuit met tipies Mercedes gehalte. Materiale, afwerking en vakmanskap is die toonbeeld van besondere goeie kwaliteit. Die binneruim is weelderig luuks, baie gerieflik en bied ‘n verskeidenheid van opsies en kombinansies met etlike opsionele ekstras.
Die GLE Coupe weeg byna 2 300kg, tog is ritgehalte egter verbasend goed. Dit is grootliks te danke aan die “Dynamic Select”-stelsel wat in samewerking met die lugvering en viertrekstelsel vier verskillende ry-modusse bied nl: Comfort, Slippery, Sport en Individual. Kies jy “Sport” met die draaiknop op die middelkonsole tussen die voorste sitplekke, dan sak die bakwerk en die veerstelsel raak fermer. Met die “Individual”-opsie kan jy jou eie verstellings ten opsigte van stuur en vering kies.

Die AMG modelle bied ook ‘n Sport? opsie wat die bak nog laer laat sak terwyl die stelsel dan ook die vering aanpas vir wanneer jy nou rerig braaf deur die draaie wil wees. Dan is die kenmerkende geroggel en brul van die V8-Biturbo ook verslawend vir ‘n petrolkop met die blafknalle by oorskakeling wat selfs die bobbejane laat koes het.

Tydens die bekendstelling het ons diep in die Knysna-woud gaan ry op ‘n tweespoor pad wat na ‘n week se lekker reën sopnat en glip-gly-modderig gewees het. Ek was agter die stuur van die peperduur AMG 63-model. Tot my uiterse verbasing het hierdie baie swaar über-kragtige verrigtingswa heel gemaklik deur die sopnat woud se modderige slote en dieperige poele geluier sonder om een keer die wiele te tol – dit boonop met 325mm breë lae profiel rubber op 22” vellings! Moet bysê, ek het die “Comfort”- verstelling gekies (die AMG63-model het nie die ”Slippery” opsie) en die lugvering op “Rise” gestel om ‘n 250mm grondvryhoogte te kry. Die veerstelsel het die slegte oppervlakte heerlik verdoesel vir ‘n aangename ervaring.

Mercedes-Benz GLE Coupé (2014)

Terug op die die teer het ek die Sport- verstelling gekies en die AMG 63 se verbysterende versnelling en uitstekende remme deur die uitdagende kort draaietjies van die R102 na Nature’s Valley behoorlik getoets! In vergeleke met X6M is die Munchen-monster dalk miskien net-net steeds die wenner om die baan en miskien dalk ook deur die nou draaie en harnaald bogge van Franschhoek se pas, maar as ek rerig moet kies tussen BMW se hardebaard, vlymskerp X6M of Mercedes se AMG GLE 6.3S Coupe, sal ek die sleutel van die Merc vat. Grootliks vir die Merc se sagter voorkoms, maar ook die verbasende vermoëns op die modderige tweespoorpaaitjie. Dan laastens ook omdat ek liefs elke dag die kombinasie van weelde en ‘n gerieflike rit in die GLE Coupe sal wil ervaar.

Ons het ook die GLE 350d Coupé oor nagenoeg 60km teerpad geproe en toe die 130km-snelweg terug na George met die GLE 450 AMG Coupé afgelê. Die V6 Biturbo petrol se gemakliker rit en R760,000 goedkoper pryskaartjie as die AMG 63S, maak dit my gunsteling keuse van die huidige GLE modelle. In Sport verstelling was die verrigting heerlik entoesiasties, terwyl die blaf-klap-en-roggel van die uitlaatstelsel my heelpad breed laat glimlag het.

Foto’s: www.quickpic.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button