Volvo XC90 toegerus vir jou veiligheid en gemak

Die mark vir sportnutsvoertuie (SNV) is besig om wêreldwyd te groei. Dieselfde geld vir die groot, luukse SNV-segment. Dit is die segment waar die BMW X5, die Range Rover en die Audi Q7 nesskop - kragtige waens gelaai met weelde en geriefsitems.

Hulle het permanente vier-wielaandrywing, maar is nie volbloed 4×4’s nie. As dit móét kan hulle deur slote ry, maar dit is “sagte” voertuie wat kan krap en duik, nie ‘n Pajero of Fortuner wat vir die harde lewe gemaak is nie. Hulle is, my maat, die spogwiele wat aankondig dat jy gearriveer het. Met Volvo se nuwe XC90-reeks, is daar nou ‘n nuwe mededinger op hierdie veld. Goed-goed, die manne wat weet van karre en sulke dinge, sal gou uitwys dat Volvo se XC90 darem al 12 jaar met ons is – en dit is juis die punt.

Die Volvo XC90 het in ‘n uiters kompeterende terrein agtergeraak. Om in hierdie mark te oorleef, moet jy die beste en jongste motortegnologie kan aanbied. In hierdie 12 jaar het Volvo as vervaardiger ook van eienaars verwissel. Volvo was sedert die jaar 2000 eienaar van Volvo Motors en nadat hulle die fantastiese Volvo 5-silinderenjin, die T5, in hul Ford Focus ST-modelle ingebou het, het Ford toe sy stiefkind aan Geely, ‘n Chinese-vervaardiger verkoop. Anders as met Ford, blyk dit dat die Chinese nie Volvo se tegnologie en kennis plunder nie, maar eerder in die Volvo-kenteken belê.

Sodoende is Volvo se XC90 terug in die internasionale arena, gelaai met tegnologiewaarde. Dit is soos die Starship Enterprise wat vir die bure in ander sterrestelsels gaan kuier het en toe met ‘n klomp truuks terug aarde toe gekom het. Sonder om navolgers van die Range Rover en BMW X5 te wees, kan die nuwe reeks Volvo XC90 sy eie tempo aangee. As dit by brandstofbesparing, veiligheid en veral by tegnologiese gesofistikeerdheid kom, is die Volvo XC90 in ‘n klas op sy eie. Dit begin met die XC90 se instrumentekontrole. In plaas van die tradisionele paneel met knoppies en skakelaars, het die XC90 ‘n gerekenariseerde raakskerm in die middel van die instrumentpaneel, wat van die voertuig se kontroles in beheer is.
Mense wat gewoond is aan rekenaartablette sal dadelik tuis voel in die XC90.

xc90-33 (Medium)

Die oningewydes sal dit egter ook gou logies vind. Met een oogopslag kan jy byvoorbeeld sien wat met die lugversorger aangaan, watter radiostasie speel in die agtergrond en selfs hoe ekonomies die voertuig ry. Hierdie kontrolestelsel word ondersteun deur sommige van die kontroles ook op die stuurwiel te dupliseer sodat die bestuurder nie sy oë van die pad af hoef te haal nie.

‘n Pluspunt is dat ‘n windskermprojeksie in die meer weelderige modelle beskikbaar is. Net bokant die stuurwiel teen die voorruit word sekere van die voertuig se kritiese inligting soos sy spoed, vertoon. Die XC90-reeks is besonder goed toegerus met tegnologie om die voertuig veiliger te maak en die bestuurder beter te laat bestuur. Standaard items waarmee al die modelle uitkom, is onder andere spoedbeheer, ‘n botsingvermyding-stelsel (as die bestuurder aan die slaap is en ‘n voorwerp voor in die pad te vinnig nader, sal hierdie stelsel betyds begin rem), laanwissel-waarskuwing, outomatiese parkeerstelsel, op- en afdraandbystand en ‘n ingeboude  navigasiestelsel. Daar is nog vele meer bykomstighede as standaard, waarvoor jy by van die mededingers ekstra sou moes betaal.

xc90-31 (Medium)

Op die oomblik is daar net twee kragbronne vir die XC90’s in Suid-Afrika beskikbaar, die T6-enjin (petrol) en die D5-diesel. Die D4- en T5-enjins kom aan die einde van die jaar Suid-Afrika toe en die topmodel in die reeks, die T8 wat met beide ‘n petrol- en elektriese enjin toegerus is, sal in 2016 hier vrygestel word. Die huidige twee enjins is “klein” in vergelyking met wat die mededingers aanbied – net 2l – maar Volvo genereer danksy tegnologie en slim turboaanwending geweldige produktiewe krag uit hul nuwegeslag-viersilinderkragbronne. Die 2-liter T6-viersilinderpetrolenjin is ‘n sprekende voorbeeld hiervan. Dit kan 235kW@5700r/min en 400Nm@2200-5400r/min ontwikkel. Die D5-dieselenjin lewer op sy beurt 165kW@4250r/min en 470Nm@1750-2500r/min. In al die modelle verplaas Volvo se outomatiese Geartronic-agtspoedratkas, wat ook na handrat verander kan word, die krag na die wiele.

Die Volvo XC90 met die T6-enjin het ‘n gemiddelde brandstofverbruik van 8liter/100 km en die D5-modelle lewer ongeveer 5,8liter/100km. Met hierdie twee enjins is daar 11 verskillende modelspesifikasies in Suid-Afrika beskikbaar.  Die XC90 is groot en ruim en omdat nog twee sitplekke uit die agterste laairuimte getrek kan word, kan sewe mense daarin sit. Die XC90 bied voldoende krag en bied hope waarde vir geld. Wat geld nie kan koop nie is “gerusstelling”.

Met die XC90 weet jy, jy het een van die veiligste en beste voertuie wat geld kan koop.

Foto’s: www.quickpic.co.za.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button