FeaturesInnibos NuusLifestyle

Jou wildste drome word waar Innibos

Die fees is Woensdag amptelik ingewy met 'n kleurryke optog deur die middestad. Meer as 800 mense het deelgeneem en verskeie kultuurgroepe met sang en dans uitgebeeld

MBOMBELA – Innibos is in volle swang en die land se gewildste kunstefees, soos vroeër vanjaar aangewys deur kykNET se Fiësta nadat feesgangers vir hul gunstelingfees kon stem, bied weer vermaak uit die boonste rakke.

Die land se beste akteurs en sangers span saam om produksies van hoogstaande gehalte op die planke te bring en teatergangers en resensente is gaande oor hierdie jaar se aanbod.

Daar was minder mense by Woensdagaand se Huisgenoot Afskopkonsert, maar organiseerders meen dit is bloot omdat die ekonomie knyp en mense nou nie meer sommer elke aand se onderskeie konserte kan bywoon nie. Teen druktyd gister (Donderdag), was Woensdagaand se amptelike bywoningsyfer nog nie beskikbaar nie. Tog was die onderskeie stalletjiehouers tevrede met die aantal voete wat hulle Woensdag gehad het.

Interessant genoeg, het me. Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos, gesê dat daar teen gisteroggend, slegs 200 minder kaartjies vir toneelstukke as verlede jaar se totaal, verkoop is.

Die feestelikhede het reeds Dinsdag begin met ‘n indrukwekkende kunsuitstalling by die burgersentrum wat deur onder meer die LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, mnr. Eric Kholwane, bygewoon is. Hy het genoem dat Innibos belangrik is om mense bymekaar te bring, ongeag ons uiteenlopende kulture en tale.

Lees ook: Dis die klein dingetjies wat tel

Die fees is Woensdag amptelik ingewy met ‘n kleurryke optog deur die middestad. Meer as 800 mense het deelgeneem en verskeie kultuurgroepe met sang en dans uitgebeeld. Feesgangers het vanaf 17:00 opgewonde op die feesterrein by Hoërskool Bergvlam saamgedrom in afwagting op die Afskopkonsert wat om 18:00 begin het. “Dit was besonders. Elvis Blue rocked the show,” het Jacobs opgewonde opgemerk. BlackByrd was ‘n hoogtepunt en Refentse ‘n aangename verrassing toe hy met “Oom Faan se plaas” wegval.

Diegene wat nie voor die gehoor saamgedrom het nie, het deur die talle stalletjies in die Bosmôl geloop of na ander sangers op die onderskeie kuierverhoë in die tente gesit en luister. Daar was verskeie polisielede en sekuriteitsbeamptes aan diens wat ‘n veilige ogie oor feesgangers gehou het. Die tydelike toilette was silwerskoon, met skoonmakers wat gedurig reggestaan het met skoonmaakmiddels en rolle toiletpapier.

Die bekende Laeveldse skrywer, Chris Barnard wat in Desember verlede jaar dood is, is ook Woensdagaand tydens ‘n hartroerende vereringsfunksie onthou.

Paul Boekkooi, bekende resensent wat verskeie van die produksies vir Muskiet (Innibos se feeskoerant), resenseer, is baie beïndruk met die onderskeie toneelstukke. Hy is veral beïndruk met Plant vir my ‘n boom, André, wat handel oor Ingrid Jonker en André Brink. “Dit is soveel meer as slegs die moeite werd om te ervaar: dit is ‘n eenmalige belewenis,” het hy opgemerk.

Lees ook: Sy stories sus jou nié aan die slaap

Engelssprekendes word ook vir die eerste keer by Innibos se teater betrek met People are living there, waarin Anna-Mart van der Merwe en die plaaslike boorling Francois Jacobs, verskyn. “Dié intens menslike People are Living There is Suid-Afrikaanse teater van wêreldgehalte, met die soort spelprestasies wat dit aanvul,” sê Paul.

Me. Mahlatse Malibe het onder meer op Facebook opgemerk dat sy Woensdagaand na Innibos is met die doel “om ‘n deeglike waarneming van dié reusefees te doen”. Sy skryf: “Die fees is meestal Afrikaans. Almal om my het Afrikaans gepraat en elke stalletjie het die Afrikaanse kultuur en produkte bevorder. Ek het slegs by die pretpark swartmense teëgekom. Ek het uitstaande diens ontvang en almal was vriendelik en stalletjiehouers het vriendelik met my in Engels gepraat.

“My waarneming is dit: Innibos is ‘n konsep wat ontwerp is om die Afrikaanse kultuur te bevorder en te geniet. Sien ek iets verkeerds daarmee? Glad nie. Ek was al by baie funksies en feeste waar daar nie ‘n enkele witmens was nie en ek het nie gekla nie, so hoekom sal ek vandag kla? Is ek rassisties behandel? Glad nie. Het ek onwelkom gevoel? Glad nie. Het ek myself geniet? Ja. Moet hulle hul konsep verander en meer tegemoetkomend teenoor ander kulture wees? Hoekom moet hulle? Wat is fout daarmee dat hulle hul eie kultuur geniet? Hoekom sluit ons nie net by hulle aan en leer meer oor hoe ander kulture hulself vermaak nie?

Lees ook: Innibos se jongste kunstenaar maak sy buiging

“Ek doen ‘n beroep op almal wat dit lees om te gaan en hulself by Innibos te geniet. Ja, dit is baie Afrikaans, maar dit is doelbewus en doen niemand skade nie. Jy sal nie hulle liedjies verstaan nie, maar dans in elk geval saam. Hê pret, leef, wees lief en maak vooruitgang!”

Vanaand se kykNET-konsert, met onder meer Juanita du Plessis en Eden, gaan feesgangers se voete weer behoorlik laat jeuk.

Daar was kommer dat Bobby van Jaarsveld moontlik Innibos kon misloop omdat vlugte vanaf Istanboel vertraag is weens selfmoordbomaanvalle, maar sy ma en agent, me. Ronel Brink – het bevestig dat hy veilig geland het. Hy is deel van môreaand se JacarandaFM-konsert. Hy sal die verhoog deel met ander grotes in die musiekbedryf soos sy sussie, Karlien van Jaarsveld, Snotkop, Corlea Botha, Jannie Moolman en vele meer.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button