Sonja en haar honnepêl voorsien die apies met hope pret en plesier
Die bekende Afrikaanse pêrelvrou Sonja Heroldt, en haar honnepêl Tjokker, het geen bekendstelling in die Laeveld nodig nie. Hierdie kindermusiekproduksie, Sonja en Tjokker, het talle kleintjies by Apies Innibos in verwondering gelaat. Maar eers het die maats nuuskierig geloer na wanneer die straatbrak sy opwagting gaan maak, terwyl sy ounooi die jongspan lekker laat saamsing …

Die bekende Afrikaanse pêrelvrou Sonja Heroldt, en haar honnepêl Tjokker, het geen bekendstelling in die Laeveld nodig nie. Hierdie kindermusiekproduksie, Sonja en Tjokker, het talle kleintjies by Apies Innibos in verwondering gelaat.
Maar eers het die maats nuuskierig geloer na wanneer die straatbrak sy opwagting gaan maak, terwyl sy ounooi die jongspan lekker laat saamsing het. Elke nou en dan steek hy sy kop uit, en toe hy uiteindelik sy verskyning maak, het hulle van die lag uitgebars.
Sonja en Tjokker het saam vermaak gebied met bekende, sowel oorspronklike liedjies soos “Noag bou ‘n ark” en “Stapsoldaatjie”. Die kleintjies het sonder skroom opgespring en gedans, en deelgeneem aan dié twee se manewales.
“Tjokker, druk die knoppie,” het die haasbekkies deurentyd geskree vir nog ‘n oulike treffer.
Dié snoesige karakter se oulike sêgoed het hulle laat skater, maar het ook baie diep in hulle harte ingekruip. Die liedjies en stories wat hy en Sonja vertel, gesing en uitgebeeld het, het ‘n opbouende en geestelike aanslag gehad. Ouers kan gerus wéér volgende jaar die kleinspan met ‘n kuier by Apies Innibos bederf.
Vir meer Innibos nuus, kliek hier








