Waikiki inbraak
STEELPOORT – ‘n Bakkie en ander toerusting is Dinsdag vroegoggend op die perseel van die Waikiki-sportkroeg gesteel. Die kantore van die Oasis-gastehuis, wat ook op die terrein geleë is asook dié van die kroeg, het ook onder die diewe se hande deurgeloop. Die gastehuis en Waikiki-sportkroeg is in die hartjie van die sentrale besigheidsgebied langs …
STEELPOORT – ‘n Bakkie en ander toerusting is Dinsdag vroegoggend op die perseel van die Waikiki-sportkroeg gesteel.
Die kantore van die Oasis-gastehuis, wat ook op die terrein geleë is asook dié van die kroeg, het ook onder die diewe se hande deurgeloop.
Die gastehuis en Waikiki-sportkroeg is in die hartjie van die sentrale besigheidsgebied langs die Sasol-vulstasie geleë. Gaste en personeel van die gastehuis was reeds in hul wooneenhede toe die inbraak plaasgevind het. Die sportkroeg was tot 21:30 oop en volgens die eienaar, mnr. Christiaan Holscher was die elektroniese hek tot 04:15 gesluit. Twee personeellede, mnr. Henri Crause en mnr. Jacques Breytenbach het daardie tyd die hek oopgemaak om iets by die vulstasie te gaan koop. Die bakkie was toe nog op die terrein geparkeer.
Met hulle terugkeer sowat 20 minute later, was die voertuig weg, het die kantoordeure oopgestaan en was daar duidelike tekens van ‘n inbraak. Die polisie is later die oggend ontbied en hulle het vingerafdrukke geneem. Hulle vasgestel dat die skelms die palissadeheining afgeknip het om so toegang tot die perseel te kry. Die verdagtes het ‘n gat in ‘n gewone draadheining in ‘n hoek van die erf geknip en oopgebuig. Hulle het dié gulde geleentheid gebruik, toe die hek oopgaan, om met die bakkie weg te ry. Daar is ook by twee houthuisies op die perseel ingebreek.
“Ons vermoed dat hulle moontlik afgeskrik is deur iemand, want hulle het van die items wat reggesit is naby die opening in die heining, net daar gelos, asook ‘n swartsak met ‘n domkrag, handskoene, tang en ander items. Die skade word op R55 000 geraam, wat die herstel van die heining, die verskeie toerusting, wat rekenaars en hardeware insluit, asook die voertuig,” sê Holscher. Die bakkie en ander gesteelde goedere is nog nie opgespoor nie.
