Ratels rugby
Na ‘n strawwe wedstryd in die finaal, is die Ratels van Ohrigstad as die wenners van die Laeveld se Mayors Reserve-liga gekroon. Dit was ‘n harde 80 minute teen die Pumbas van Hoedspruit en beide spanne het gespook om eerste punte op die telbord te kry. Nie net is die manne se fiksheid getoets nie, …
Na ‘n strawwe wedstryd in die finaal, is die Ratels van Ohrigstad as die wenners van die Laeveld se Mayors Reserve-liga gekroon.
Dit was ‘n harde 80 minute teen die Pumbas van Hoedspruit en beide spanne het gespook om eerste punte op die telbord te kry. Nie net is die manne se fiksheid getoets nie, maar ook hul emosionele uithouvermoë.
Binne die eerste 20 minute het die skeidsregter ‘n rooikaart aan ‘n Pumba-speler, en ‘n geelkaart aan ‘n Ratel-speler uitgedeel. Ohrigstad moes koppe bymekaarsit en soos een man dink, want die begeesterde Pumbas teen wie hulle Saterdag gespeel het, was nie die span wat hulle drie weke gelede geklop het nie. Teen rustyd was daar nog geen punte op die telbord nie, en die spelers se fut was byna uit. Dit was eers in die laaste 15 minute dat die Ratels en daarna die Pumbas punte kon aanteken, met die eindtelling op 12-7 in die Ohrigstad-span se guns.
Vir die Ratels het Panda Richards en Willem le Grange elk ‘n drie gedruk. Juan van Zyl het een drie verdoel. Die voorspeler van die wedstryd was Stefan Vorster en agterspeler Panda Richards.
“Ons gaan die naweek op Ermelo teen die Hoëveld-wenners vir die Mpumalanga-trofee speel,” sê afrigter Quartus du Toit. Hierdie span van Ohrigstad steur hulle beslis nie aan dinge wat nog nie voorheen gedoen kon word nie, maar verwag steeds ‘n kwaai aanslag van die Hoëveld-span.
