Medemenslikheid red man se beste vriend
Die onweer wat Steiltes se krag vroeg in Augustus uitgeslaan het, was die begin van 'n storie van medemenslikheid wat die hart vermurwe.

Toe Sam Barnard (72) van Steiltes se lieflingshond, Dean, bo-op ‘n palissade beland en dit byna dwarsdeur sy lyf gesteek het, het gemeenskapslede saamgespan om Sam se getroue vriend te red.
Hy het aan Nelspruit Post vertel wat daardie aand gebeur het.
“Dit was kwart voor twaalf die aand – ek kan nie die presiese datum onthou nie – en ek het my hond hoor huil. Die krag was af en dit was pikdonker. Ek het geroep: ‘Dean!’ en net die gehuil, het teruggeantwoord.”
Lees ook: Steiltes power still not back on
Sam, wat moeilik loop, kon Dean nie te hulp snel nie. Sy bure, Lionel en Landa Lerm, het die hond hoor tjank en vir Sam hoor roep. Toe hulle hom bel en nie antwoord kry nie, het hulle Hi-Tech geskakel.
“Bardi Steenkamp van Hi-Tech het Dean uit die pen gelig. Daar het bloed by sy mond uitgekom. Ek het nie gedink dat hy dit sou maak nie,” het Sam ernstig gesê. “Ons was seker dat die pen deur sy ingewande gesteek het.” Sam het Van Wijkstraat Dierehospitaal se kontaknommer by Schalk en Zelda Esterhuizen gekry. Dean is agterop die Lerms se bakkie gelaai en soontoe geneem. Dr. Jace Coetzee het bevind dat die hond se organe nie beskadig was nie, maar dat sy spiere geskeur het en geheg moes word.
Lees ook: Sparks fly in Steiltes as water and electricity mix
“Daarna was hy vir vier of vyf dae in die hospitaal,” het Sam onthou. ‘n Barmhartige samaritaan het die veeartsrekening betaal. “Hiervoor is ek so oneindig dankbaar,” het Sam gesê.
“Hi-Tech het selfs na die voorval hier kom inloer en Callum MacPherson het vir Dean speel- en kougoed gebring. Dit terwyl ek nie eens ‘n kliënt is nie,” het hy aangedaan gesê.
