Saarkie se magnetiese optrede rock die gehoor
Saarkie rock die gehoor by Rango's.

MBOMBELA – Die energieke rockgroep Saarkie het behoorlik Rango’s se dak met hul optrede Vrydagaand gelig.
Met Adèle Fouché, as die hoofsanger en kitaarspeler, Lila Botha op dromme en Lourene Mostert op baskitaar en klawerbord, het hulle ‘n magnetiese verhoogteenwoordigheid. Dit was hul eerste optrede by Rango’s en die plek was stampvol.
Saarkie het hul debuutalbum, Luister, in 2009 vrygestel, maar het eers regtig naam gemaak met die volgende twee, Identiteit en Reisiger. Hulle geniet tans groot aanhang en het al die verhoog met Karen Zoid, The Parlotones en Kurt Darren gedeel.
Die groep sing ook in Engels, en het ‘n kenmerkende styl en klank, wat hul aanhangers dié aand terdeë geniet het.
Die trio is onlangs vir die Beste Rock Album by die Suid-Afrikaanse Musiektoekennings (Sama) asook vir ‘n Ghoema-prys genomineer.
Rango’s se eienaar, Frans Stapelberg, het gesê hy is baie tevrede met die sukses van die aand.
Photo Credit: Renée Dewet Momento Photography











